Hoofartikel: Wat jou laat stop.
Stop vir ‘n oomblik en oordink hierdie mening. FOTO: Helena Barnard

Vandag, 20 Maart, behoort ons gelukkig te voel, want dit is immers die Internasionale Dag van Geluk.

Boonop, op dié dag word die Wêreldgelukkigheidsverslag beskikbaar gestel.

Hierin word inwoners van verskillende lande se gemiddelde vlakke van lewenstevredenheid uiteengesit (want, reken die Verenigde Nasies, regerings en organisasies moet geluk bevorder deur te belê in toestande wat onder meer op welstand en menseregte gefokus is).

Die tema in dié verslag is dieselfde as vanjaar se tema vir dié (gelukkige) dag: “Caring and sharing,” of “Omgee en deel.”

Geluk is ‘n basiese menslike doelwit, sê die organisasie op sy webwerf, en op dayofhappines.net is selfs ‘n tiendag-gelukkigheidsuitdaging waaraan deelgeneem kan word. Hier word daaglikse gewoontes om gelukkiger te leef, gedeel.

Die idee om so ‘n dag te gedenk het in 1972 begin toe die koning van Bhoetan gesê het ‘n land se vooruitgang moet bepaal word deur hoe gelukkig die mense is, en nie net hoe goed die land se geldsake is nie.

In opdrag van die koning het Bhoetan ‘n stelsel ontwikkel om geluk te meet, gekoppel aan mense se geestesgesondheid, algemene gesondheid, hoe hulle hul tyd deurbring, waar hulle woon, en hul opvoeding en omgewing.

Hoe gelukkig Suid-Afrikaners die afgelope jaar was, sal ons binne ‘n paar dae weet.

Intussen, vind gerus meer uit oor studies wat bevind het dat bloot deur na die natuur te kyk, pyn kan verlig, en deur direk in die natuur te wees, jou gemoedstoestand kan verbeter.

Sit jou foon neer, staan op van die rekenaar, skakel die televisie af. Te veel skermtyd veroorsaak “natuur-ontneming”, wat weer depressie veroorsaak, en ‘n verlies van onbaatsugtigheid en empatie. Soek die natuur op, en dink dan aan Khalil Gibran se woorde: “Forget not that the earth delights to feel your bare feet and the winds long to play with your hair.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article