Geloof, hoop, liefde gee rigting

Alle mense leef met ’n raamwerk van denke wat ons help om sin van ons lewe te maak.


Alle mense leef met ’n raamwerk van denke wat ons help om sin van ons lewe te maak.

Ons gebruik die raamwerk om goeie besluite te neem wat tot ’n gelukkige lewe sal lei. Baie mense gebruik die wetenskap as raamwerk. Ons het dan “feite” waarop ons keuses berus.

Tans met Covid-19 hoor ons dikwels die regering sê hulle bestuursbesluite berus op die feite van die wetenskap, en daarom is dit betroubaar.

Vir baie mense is geloof hul raamwerk. Vir hulle is daar genoeg gronde in geloof om gelukkig te lewe. Hoe gelowiges God verstaan, gee sekerheid aan hul raamwerk.

Albei raamwerke maak aanspraak op sekerhede, maar die aard daarvan verskil. Die wetenskap gebruik “feite” wat bewysbaar is en daarom seker is. Die geloof reken dat Gód seker is en daarom is geloof ’n betroubare raamwerk.

In ’n hof word die werklikheid gerekonstrueer deur getuienis wat betroubaar is.

Tog kan albei se vertrekpunte ook bevraagteken word.

’n Wetenskapfeit is net ’n sekerheid totdat nuwe kennis gevind word en dit teëspreek, en daar dan met ’n nuwe feit gewerk moet word.

Geloof kan nie ’n fisiese bewys bring dat God bestaan nie.

Hoe help die Bybel ons om oor God te praat?

Paulus sê in 1 Korintiërs 13:12-13 ons begryp nou net gedeeltelik, maar eendag sal ons ten volle verstaan. En in Kolossense 1:15 en 19 wil hy ons aanmoedig deur te wys na Jesus: Ons het ’n ankerpunt – in Jesus sien ons God. God het besluit om met sy volle wese in Jesus te woon.

Dus, waarop staan gelowiges se raamwerk?

Ons leef met ’n onvolledige beeld en moet voortgaan met ’n mate van onsekerheid. In Jesus het God sy intensies vir ons kom wys. Saam met ander gelowiges loop ons hierdie pad, vas vertrouend dat ons eendag alles beter sal begryp. Geloof, hoop en liefde sal ons oor die eindstreep help.

Kortom, kyk na Jesus, leef in liefde en jy sal oor die lewende Here kan getuig.

You need to be Logged In to leave a comment.