BLOEMFONTEIN. ‘n Geliefde Afrikaanse Skrywer wat haar grootwordjare in Bloemfontein deurgebring het, is Woensdag oorlede ná ‘n moedige stryd teen kanker.

Madelein Rust, uit wie se pen meer as 18 werke waaronder romans soos Siembamba, Moederland en Bessie se Hangkas-biblioteek gevloei het, het ‘n jarelange stryd teen kanker gevoer. Sy is in 2015 met borskanker gediagnoseer.

In haar outobiografiese vertelling Kanker Schmanker het sy op ‘n kordate en nugter manier met die siekte “in gesprek getree”, en haar lesers met hierdie vreeslose verslag bemoedig om hulle eie stryd te stry.

Teen 2020 was sy weer in die ysere greep van kanker. Hierdie keer is sy met terminale beenkanker gediagnoseer. Die laaste akuut pynlike reis het sy eweneens in boekvorm beskryf, en “Van vrees na vrede” het nogmaals vir haarself sowel as medereisigers moed en vrede gebring.

Leana Lategan, afgetrede hoofvakkundige van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln) in Bloemfontein, wat talle onderhoude met Madelein gevoer het, sê dié skrywer was ‘n geliefde mens en iemand in wie se nabyheid ‘n mens graag wou wees.

Madelein is ‘n oud-Bloemfonteiner en vertel graag hoe sy as laerskoolkind in die Laerskool Brandwag se biblioteek boeke sit en lees het.

Leana vertel Madelein se eerste skryfpogings het pryse gewen by die Bloemfonteinse Skrywersvereniging. “Jare later sou sy altyd op uitnodiging van die Fichardtpark-biblioteek met haar lesers kom gesels, elke keer vir ‘n hele saal vol gretige lesers.”

Lesers wat met bekend is met haar werk sal weet dat sy Bloemfontein graag as agtergrond vir haar boeke gebruik het. In die futuristiese boek Moederland beeld sy die stad uit met onvergeetlike denkbeeldige tonele van ware plekke in die stad.

Sedert haar debuut in 2014, met 13 de Kaart, het talle misdaadrillers gevolg. As storielyne het sy haar laat lei deur wat aktueel in nuusberigte was. Noukeurige navorsing was nodig vir elke roman, en dit was iets wat sy baie geniet het.

Haar laaste twee romans “Bessie se hangkasbiblioteek”, en die splinternuwe “Drie moorde in die Baai” was albei onmiddellike wenners.

“Haar nalatenskap is veel, véél meer as die boeke wat sy geskryf het,” skryf Leana oor Madelein se dood.

“Sy het ons skrywerswêreld armer gelaat, en in haar lesers se oë sal dit ‘n blywende leemte laat.”

You need to be Logged In to leave a comment.