Loeriesfontein
GRH Enterprise maak reeds ‘n impak op die Loeriesfontein-gemeenskap. FOTO: Verskaf

Te danke aan die ondersteuning van ‘n plaaslike ondernemingsontwikkelingstoelaag kan GRH Enterprise nou bekostigbare, gehalte kruideniersware aan die inwoners van Loeriesfontein verskaf.

Dié onderneming wat verlede jaar deur drie plaaslike entrepreneurs – Gert Cloete, Rebia Beukes en Hilmeree Beukes – geopen is, maak reeds ‘n impak deur te help om huishoudelike uitgawes te verminder en by te dra tot die dorp se groeiende kleinsakesektor.

“Ons is trots om ‘n winkel te bestuur wat nie net noodsaaklike produkte aan ons gemeenskap verskaf nie, maar ook plaaslike verskaffers ondersteun. Ons kan ‘n werklike verskil in die lewe van ons kliënte maak, waarvan baie uit benadeelde agtergronde kom. Ons besigheid is meer as net ‘n winkel – dit het ‘n spilpunt vir die gemeenskap geword,” sê Cloete.

Met ondersteuning van die Loeriesfontein- en Khobab-windplaas se Asset-Based Community Development (ABCD) toelaagbefondsing is die winkel gestig om ‘n kritieke gemeenskapsbehoefte aan te spreek.

Dit sluit toegang tot gehalte kouevleisprodukte en daaglikse noodsaaklikhede teen bekostigbare pryse in. Die besigheid bied ‘n verskeidenheid kruideniersware, insluitend vars produkte en huishoudelike produkte.

Die spaza-winkel is boonop sentraal geleë en bly oop tot laat.

In net ‘n paar maande het GRH Enterprise reeds goeie vordering getoon en funksioneer dit as ‘n volhoubare, gemeenskapsgerigte besigheid.

“Deur ons ABCD-toelaagprogram is ons trots om entrepreneurs soos die span van GRH Enterprise te ondersteun wat plaaslike behoeftes identifiseer en dit in blywende gemeenskapsoplossings omskep,” sê Vanessa Fredericks, ekonomiese ontwikkeling bestuurder vir die windplase.

LEES OOK: Verbeterde gimnasium bevorder welstand in Loeriesfontein

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article