Te midde van fase 6-beurtkrag en die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) se besluit om Eskom wel ’n verhoging van 18,65% in kragtariewe vanaf 1 April toe te staan, is verminderde beurtkrag en verkieslik ’n einde daaraan, die hoofwens van Noord-Kapenaars vir die nuwe jaar.
NoordkaapBulletin het met ’n informele meningsopname in Kimberley en op sy Facebook-blad probeer uitvind waarvoor daar gewens word vir die jaar.
Talle hoop om elke dag elektrisiteit én water te hê, en Joey Barendse skryf: “Gee my krag johanna krag johanna…”
“Beurtkrag benadeel alle aspekte, ook dienslewering van munisipaliteite,” sê die bestuurder van ’n onderneming. Hy hoop vir ’n sterker ekonomie en dat beurtkrag tot die minimum sal word.
Amanda Robbetse hoop dat Eskom geprivatiseer sal word. “En daar geen load shedding meer is nie. Die krag gaan weer op. Maar ons sit vir 8 tot 10 ure op ’n dag sonder krag,” skryf sy.
Bianca van Barkly-Wes hoop op die beste vir Eskom, en dat beurtkrag einde sal kry. Sy hoop ook dat korrupsie sal verminder, en dat dwelmmisbruik onder die jeug sal afneem. “Tieners wat dwelms gebruik, hou ’n gevaar vir die land se toekoms in – want hulle is die toekoms,” sê sy.
Susan van Straten skryf: “Om positief te bly en net die mooi raak te sien al heers chaos om my met al die load shedding en geen water in ons dorpie. Al is die crime hoog bly ek tog lekker hier.”
Freek Klein hoop vir tien randsnyers (“weed-eaters”) sodat hy vir ten minste 20 mense werk kan gee. “Net 10 masjiene dan hou ons ons gebied skoon,” skryf hy.
Eva Abrahams hoop dat sy en haar seun nie weer so moet sukkel soos 2022, “veral wat klere en skoene vir hom betref”.
’n Ander hoop vir minder korrupsie en vir ’n regering wat weet wat hy doen.
’n Lid van ’n skoonmaakspan by die sentrum in Kimberley sê dat sy graag meer werksgeleenthede vir jongmense wil sien. “ ’n Groot probleem met werksaansoeke is dat ondervinding vereis word. Waar moet jy ondervinding opdoen as jy nie ’n aanstelling kry nie?” vra sy.
“Dat ons meer gehaltetyd vir mekaar sal hê. Covid het so baie by die mensdom gesteel; dit voel of die omgee vir mekaar ook gesteel is. Dit voel of elkeen net vir homself is. Help mekaar op die reis,” sê Erika Muller van Hartswater.
Johan Witbooi hoop dat sy kinders hul studies sal voltooi en die Here hulle in die holte van sy hand sal hou. Anna Solomons en verskeie ander hoop dat die Here haar wysheid en kennis sal gee, en Kobus Strauss hoop dat Suid-Afrika sal terugkeer na die Here.
Anneline Adonis skryf: “Vrede, geen misdaad, werk vir almal, genoeg skole, en my eie huis.”
“Dat my kerk ’n borg sal kry vir die sopkombuis,” skryf Gadctho Roman. Nancy Taaibosch hoop vir geluk, goeie gesondheid, en dat sy ’n huis kan besit. Renee Potgieter skryf: “Gesondheid… Gesondheid… Is al wat ek vra.”
’n Ander hoop dat die mishandeling van kinders en oumense sal ophou. Tarien Lubbe hoop dat alle diere van die strate en slegte omstandighede weggeneem kan word.
Marie Smit Boshoff se hoop sluit die lys af: “Dat my oë bliksemstrale kan raak. Boef en *bang*!”


