Lede van Die Voortrekkers het tydens die onlangse Noord-Kaapse gebiedskamp weer opleiding en ondervinding van hoogstaande gehalte ontvang.

Dié gebiedskamp van 4 tot 11 Oktober by Barkly-Wes is deur 70 jeuglede van graad 4 tot graad 11 bygewoon, asook deur 25 volwassenes. Hulle is in sewe graadgroepe verdeel wat na verskeie buite-kampterreine beweeg het.

‘n Hoogtepunt was die besoek van lede van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) om dié jeugdiges van waterveiligheid te leer en hoe om ‘n drenkeling te red.

Twee NSRI-vrywilligers, Roxy en Rena du Toit, het vanaf Gariepdam opgedaag en ‘n sogenaamde Jet-rib-vaartuig – ‘n stewige opblaasboot – saamgebring. Hul opleiding was teoreties en prakties van aard en die jeugdiges kon die vaardighede in die water baasraak.

Die graad 8-kamp is deur 13 jeuglede en vier offisiere uit die Noord-Kaap, Centurion in Gauteng en Despatch in die Oos-Kaap bygewoon.

Die Voortrekkers
Dit is tradisie om ‘n kilometer ver kaalvoet te stap tydens die staptog van ongeveer 04:00 tot 08:00. Foto: Verskaf

Die offisiere was Dawid, Susan en Schalk van der Berg van Kathu, en Jaco Perold van Centurion. Die jeuglede was Henco van Niekerk, Janco Mans, Riaan Bester en Danielle Jacobs (almal van Kathu), Milandi en Leandri Marais, asook Everhard en Louisa Maritz (Centurion), Christiaan Thorpe en Marieta Kruger (Kimberley), Jay Ferreira en CJ Bothma (Despatch) en Mianè du Plessis (Vryburg). Dit was buitengewoon om twee tweelinge in die groep te hê.

Die graad 8’s het vier dae op die spogplaas Wildeklawer deurgebring. Behalwe NSRI het nog drie deskundiges by die groep besoek afgelê. Coen Visser het inligting oor geologie en waterstudie verskaf, die botanis Annemarie van Heerden het oor plantkunde gesels, en Manie Pickard oor waterbestuur in landbou.

Leer lewensvaardighede aan

Lewensvaardighede wat aangeleer is, is gedek tydens drie spesialisasies. Varswater-spesialisasie behels onder meer die bestuur en bewaring van vars water. Seremonie-spesialisasie sluit in die uitvoering van seremonies en seremoniële drilwerk, soos gesien by drilvertonings en taptoe’s. Die voetslaner-spesialisasie sluit teoretiese kennis in asook ‘n fisiese staptog van 12 kilometer vier nagte oorslaap en weer 12 kilometer terugstap.

LEES OOK: Jeugdiges beleef kultuur prettig in natuur

Die staptog begin om 04:00 om die warmste tyd van die dag reeds uit die son te wees. Die jongmense se sielkundige grense word verskuif om só ver in die voordag te stap.

Nog ‘n hoogtepunt was die besoek aan Wildeklawer, wat oor die land heen onder jeugdiges bekend is vanweë hul borgskappe in skolesport. Om vier dae op die plaas deur te bring, was ‘n fees en die landerye en spilpunte skep ‘n rustige atmosfeer.

Aksie, adrenalien en uitdagings was kenmerkend van die kampprogram. ‘n Kampterrein is onder digte bosse ingerig, daar is onder die sterre op die oewer van die Vaalrivier geslaap, om die vuur gekuier en wag gestaan. Boeresport in ‘n vlak modderpoel het gou in ‘n modderbad ontaard, en daarna kon in die rivier afgespoel word. Reën het die lede een aand verplig om in ‘n stoor te oornag, wat vooraf gereël is in geval van donderweer.

Die graad 8’s bedank Louis de Kock, eienaar van Wildeklawer, asook Manie Pickard as gasheer wat moeite gedoen het om seker te maak dat alles veilig ingerig is. Die kampterrein beskik oor ‘n veilige swemplek, maar lewensbaadjies is nogtans uitgereik.

  • Die Voortrekkers is ‘n Afrikaanse kultuur-organisasie gemik op die jeug, en kultuur en avontuur word in die natuur geniet.
  • Dié Noord-Kaapse gebiedskamp is ‘n jaarlikse instelling. Belangstellendes kan Dawid van der Berg by 084 701 0894 vir meer inligting bel.

You need to be Logged In to leave a comment.