Jacobus Silwer en Mathys Roets op die bak van ’n sleepwa, vanwaar hul konsert onder sterrelig aangebied is.

Foto: Christo Louw

Sowat 100 gaste is onder ’n helder Noord-Kaapse sterrehemel deur ‘n sangvertoning van Mathys Roets en Jacobus Silwer meegevoer.

Die geleentheid was die SANParke Ereveldwagters se negende jaarlikse Boskonsert wat op 19 en 20 April in die Mokala- Nasionale Park, suid van Kimberley, plaasgevind het.

Die optrede Saterdagaand – vanaf die agterkant van ’n vragmotor by die Stofdam-voëlskuiling – het hoogtepunte uit hul gewilde “Afrikaans, die taal van my hart“-vertoning bevat met Afrikaanse hartsliedjies soos “Sprokie vir ’n stadskind”, “Skipskop”, “Droomvrou” en “Sonvanger”.

Jacobus Silwer en Mathys Roets op die bak van ’n sleepwa, vanwaar hul konsert onder sterrelig aangebied is.

Die boskonsert het weer gepaard gegaan met ’n aansit-ete aan keurigversierde tafels in die veld terwyl jakkalse in die omgewing geroep en selfs ’n uiltjie kom loer het wat aangaan.

Die parkhoof, Johan de Klerk, en lede van sy personeel het ook die konsert bygewoon wat deur die Vrystaat-streek van die SANParke Ereveldwagters aangebied word om broodnodige geld vir die park in te samel.

Een van die gaste, Johan Martin, ’n prokureur en sakeman van Bloemfontein, het die geleentheid as ’n belewenis beskryf.

“Heerlike kos, vriendelike mense en dan die hoogtepunt – Saterdag se konsert! Dit was asof die kunstenaars hul musiek spesiaal vir die park gekies het – perfekte harmonie.” Volgens Martin was die musiek behoorlik “tuis in die bos” en het dit harte aangeraak.

Volgens Paul Colditz, nasionale voorsitter van die SANParke Ereveldwagters en lid van die organiseringskomitee, is die “boskonsert” inderwaarheid ’n hele naweek van opwindende geleenthede wat uitloop op die konsert onder die maan en sterre.

Gaste by die jaarlikse Mokala Boskonsert het ook na die Noord-Kaapse sonsondergang uitgesien.

“Die gaste het almal gesê hulle het ’n onvergeetlike naweek en konsert geniet. Ek glo egter dat daardie toegewyde en hardwerkende ereveldwagters wat betrokke was by die aanbieding van die naweek selfs meer pret en vervulling gehad het om natuurbewaring en ons gaste met ’n aangename en herinneringskeppende ervaring te dien.”

Colditz sê die geld wat ingesamel word, gaan vir die vervulling van die SANParke Ereveldwagters se mandaat ter ondersteuning van die parke.

Die park van ongeveer 38 000 ha, wat ook ’n tuiste bied aan ’n paar skaars spesies soos bastergemsbokke, swartwitpense en basterhartbeeste (tsessebe’s) was uitsonderlik groen danksy milde reën wat die week vooraf nog geval het.

  • Die tiende Mokala-boskonsert word volgende jaar tydens die naweek van 11 en 12 April aangebied. Vir navrae, kontak Ina Leamy by ina@sanparksvolunteers.org.

You need to be Logged In to leave a comment.