Fyn waarneming lei na Twyfelhoekie

Vir nege jaar reeds skryf Hannes Noëth weekliks ’n rubriek vir Twyfelhoekie in Noordkaap. En tog, sê dié uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand en voorheen predikant, dat sy temas vir Twyfelhoekie nooit opraak nie.


Hannes Noëth skryf vandeesmaand reeds nege jaar lank rubrieke vir Twyfelhoekie in ‘Noordkaap’. Hy is die uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand en was voorheen ’n predikant. Foto: Rene Roux

Vir nege jaar reeds skryf Hannes Noëth weekliks ’n rubriek vir Twyfelhoekie in Noordkaap. En tog, sê dié uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand en voorheen predikant, dat sy temas vir Twyfelhoekie nooit opraak nie.  

“Hoe meer Twyfelhoekies ek skryf, hoe fyner word die waarneming, hoe meer kom die stories, hoe lekkerder die vertel. Ek glo dit is soos ’n boompie wat geplant is en met die jare groter en sterker geword het. Vanjaar is die boompie al ’n stewige boom van nege jaar se sien, hoor, beleef, waarneem en neerskryf,” vertel Noëth.

Hy het verskeie boekies en elektroniese nota-funksies waarop hy gedagtes en waarnemings stoor en so het hy altyd “vooruit”-temas. Dit was vroeg in Mei 2011 toe hy en Ruan Bruwer, destydse Noordkaap-redakteur, die moontlikheid van ’n rubriek van “sommer-net-stories” bespreek het. 

“En wraggies, op 4 Mei 2011 verskyn die eerste Twyfelhoekie. Nege jaar later verskyn dit steeds weekliks; steeds ’n voorreg. Met ons verhuising uit Kimberley was dit iets wat ek graag met my wou saamvat; wat my aan die wêreld en my mense daar bind. En spontaan het dit voortgegaan,” sê hy.

Noëth het op die plaas Twyfelhoek tussen Petrusburg en Koffiefontein grootgeword en van Januarie 2010 tot 2013 was hy leraar van die Gereformeerde kerk Kimberley. Kimberley was deel van sy grootwordwêreld en die Noëth-familie se wortels lê in Griekwastad en omgewing. 

“Kimberley is ’n besondere leefwêreld en ek kan altyd die mense aan die voorreg herinner wat hulle het om daar te bly.” 

In sy vol program hou hy ’n spesiale plek om ’n Twyfelhoekie te skryf en hy probeer om dit elke Vrydag voor 12:00 te skryf. 

“In die nege jaar kan ek een keer onthou wat ek dit net nie kon ingee nie en die koerant ’n ouer een moes intrek,” onthou hy. 

“Die plaas Twyfelhoek het my in geheel gevorm. Die mense daar, die tyd, die omgewing… die dissipline wat ek daar geleer het pas ek steeds elke dag van my lewe toe. Ons het fisies hard gewerk, baie tyd vir gesels gehad, gegroei, die lewe oordink.” Noëth sê op daardie stadium was hy oortuig hy gaan sy hele lewe ’n predikant wees. “Maar die lewe werk soms anders uit – ná 13 jaar in die bediening word ek met die opdrag onderwysontwikkeling gestuur en van daar na Helpende Hand waar ek daagliks teen armoede baklei. Dit is ’n heerlike uitdaging. En daar is nie ’n dag wat die plaas Twyfelhoek en hoe ek grootgeword het, nie in my gedagtes is nie.” 

Mense en uitdagings. Dié twee sake is sy lewensroeping, sê hy. 

“Die uitdagings wat mense beleef. Of dit nou in die bediening of in die onderwys of in die welsyn is, mense roep my, maak my kwaad, laat my liefhê, verstom my.”

Noëth se werk in die algemeen, en veral ook nou tydens die Covid-19 pandemie, bring hom by die rykstes van die rykes en die armstes van die armes uit. 

“Wat ’n voorreg. Wat ’n uitdaging. Covid-19 het ons samelewing vir altyd kom verander. Dit bring sleg, maar dit bring ook goed. Ek sien hoe mense gee en uitreik wat nooit voorheen sou nie. Ek sien hoe mense hul harte vir ander oopmaak. Ek sien hoe mense kanse vat en ander uitbuit. Die werklikheid is – ons moenie naïef wees nie – armoede in Suid-Afrika is baie erg en gaan erger word in die maande wat kom. 

“Ons gaan as gemeenskappe verantwoordelikheid vir mekaar moet neem en na mekaar moet omsien. Om kinders en bejaardes te sien honger ly, is nie ’n maklike saak nie. Ons moet ons kwesbare groepe beskerm en toevou.

”Ongeag die nimmereindigende taak van Solidariteit Helpende Hand kry hy hoop. In die harte van mense. Die hande van mense. Die bereidheid van mense. 

“Die hoop lê juis daarin dat mense hoop aan mekaar bedien in hoe hulle na mekaar omsien. Mense kan hooprowers wees, maar mense is ook hoopgewers.”

Die een grootste aspek wat Noëth graag in Suid-Afrika sou wou verander is dat mense met hart, in krag tot hoop met mekaar sal werk. 

“Waar hierdie drie begrippe – hart, krag en hoop – ontbreek, is ons almal armer,” sê hy. 

Sy vrou, Rina, is ’n onderwyser. Die twee studentekinders is Henning (22), ’n finalejaarstudent in meganiese ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria en Marli (20), wat geleentheidsbeplanning in die Kaap studeer. Hanri (17) is die gr. 11-tiener en Esna (8) die laatlam. 

Noëth het in 1992 aan die Hoërskool A.J.C. Jooste in Petrusburg matrikuleer en in 1995 ’n BA-graad met Grieks en filosofie as hoofvakke aan die destydse PU vir CHO in Potchefstroom verwerf. Hy het ook teologiese opleiding en ’n meestersgraad in huweliksetiek. Sy eerste gemeente, van 2000 tot 2006, was in Wolmaransstad, daarna Naboomspruit en Kimberley. In 2014 het hy ’n beroep as medeleraar na Totiusdal aanvaar en word terselfdertyd hoof van die Gereformeerde Skool Dirk Postma, wat binne Totiusdal se gemeentegrense geleë is.Hy is by die samestelling van talle publikasies betrokke, dien in die direksie van die Erfenisstigting, Voortrekkermonument, FAK, Maroela Media en is die skrywer van die boek, Depressie: Struikelblok of uitdaging?

You need to be Logged In to leave a comment.