Fratsongeluk groot skok

Die afgelope week het die gemeenskap van Kathu ’n laer getrek om die gesin van die vrou wie se 12-jarige seun haar per ongeluk doodgery het.


Die afgelope week het die gemeenskap van Kathu ’n laer getrek om die gesin van die vrou wie se 12-jarige seun haar per ongeluk doodgery het.

Die 39-jarige ma van drie seuns en ’n dogter is Donderdag (13/08) by haar huis in dié dorp dood.

“Dit was werklik net ’n fratsongeluk wat enigeen kon oorkom. Ons hele gemeenskap rou saam met die gesin,” het ’n gemeenskapslid aan Kalahari Bulletin gesê.

Die sakeman sê die seun is nes enige ander kind op die platteland.

“Hier leer ons, ons kinders van jongs af om op plaaspaaie te bestuur. Dis hoe ek geleer het. Dis hoe baie hier leer bestuur. Dit (die ongeluk) kon met enige een van ons gebeur het.”

Nog ’n inwoner sê die gesin is stukkend.

“Dit is verskriklik. Ons wil nie betrokke raak of iets sê nie. Niemand wil verdere hartseer vir die familie veroorsaak nie. Die ongeluk is vir die hele dorp ’n groot skok.”

Die tuisteskepper sê die gemeenskap wil net die gesin bystaan en die seun beskerm.

“Hoe moet hy nie voel nie . . . die hartseer en verwyt waarmee hy nou moet saamleef. Ek wens dit vir niemand toe nie.”

Volgens kol. Mashay Gamieldien, ’n polisiewoordvoerder, is ’n geregtelike doodsondersoek begin.

Die ongeluk het Donderdag omstreeks 17:15 by die gesin se huis plaasgevind toe die vrou haar seun gevra het om hul Toyota Land Cruiser, te skuif.

Gamieldien sê die voertuig was in trurat en sy het na bewering vir die seun beduie hoe ver hy agteruit moes ry.

In ’n stadium was die vrou aan die agterkant van die voertuig naby ’n ander voertuig toe haar seun per ongeluk op die versneller getrap het.

Die ma is in die proses tussen die twee voertuie vasgedruk.

Nooddienste is na die toneel ontbied.

“Mediese werkers het alles in hul vermoë gedoen om die beseerde vrou te red. Die vrou is op die toneel dood verklaar.”

Die vrou se man was tydens die voorval uitstedig.

  • Die ma se naam word weerhou om die kind se identiteit te beskerm.

You need to be Logged In to leave a comment.