Die bastergemsbok (Hippotragus equinus) is, ondanks sy naam, nie ’n verbastering van die gemsbok nie. Dit deel die genus Hippotragus met die uitgestorwe bloubok en die swartwitpens. Die bastergemsbok het kenmerkende groot ore, wat ongeveer 26 cm lank is en glo op die blare van die aspidistra – ’n bekende binnenshuise plant – trek. Jonger diere se oorpunte het donkerder haarklossies as dié van volwassenes. ’n Bul se horings kan tot ’n meter lank word, met dié van koeie ietwat korter. Hulle word as dapper diere beskryf wat sonder huiwering ’n roofdier soos ’n leeu sal aanval. ’n Bastergemsbok kan tot 19 jaar oud word.

Foto: Helena Barnard