Die wilde sonneblom, Verbesina encelioides, is ’n onkruid wat in die laat somer en herfs in gebiede blom waar die grond versteur is. Dié blomme gedy onder kameeldoringbome in die Witsand-natuurreservaat tussen Groblershoop en Griekwastad waar die reën vanjaar mildelik geval het. Die veld is ruig en wilde grasse pronk op plekke heuphoogte. Springbokke, duikers en gemsbokke is dik gevreet, versamelvoëls vang sappige wurms vir hul kleintjies en witkruisarende bespied die aarde uit die lugruim.

Foto: Charné Kemp