Nasionale dienspligveterane in en om Kimberley word na ’n gratis geleentheid op Donderdag 18 Januarie in die stad genooi.
Die geleentheid deur die Veterane-bystandfonds het ten doel om Suid-Afrikaanse mans wat destyds deur die wet verplig was om nasionale diensplig te verrig, te bereik.
Dié fonds reik na veterane oor die land heen uit, en bied geleenthede aan waartydens gratis maaltye, musiek, geskenkpakkies en inkopie-geskenkbewyse eksklusief aan die betrokke veterane gebied word.
Nasionale dienspligveterane in en om Kimberley word genooi na só ’n geleentheid op Donderdag 18 Januarie vanaf 10:00 tot 13:00.
Deur hul identiteit- en Sassa-kaart saam te bring, kan hulle ’n gratis inkopie-geskenkbewys van R500 ontvang.
Nasionale dienspligveterane wat nie Sassa-pensioentrekkers is nie, word ook genooi om die geleenthede by te woon.
Om plek te bespreek, SMS die woord “Kimberley” met die veteraan se naam na 31429, of stuur ’n WhatsApp-boodskap na 073-868-0781. Nadat só ’n boodskap ontvang is, sal die fonds die betrokke veteraan kontak om meer besonderhede te verskaf.
Die Veterane-bystandfonds is nie ’n militêre organisasie, klub of vereniging nie; het geen lede nie; hef nie lidmaatskapfooie nie en bied geen lidmaatskapvoordele aan nie.
Die fonds is ook nie geaffilieer aan enige militêre organisasie of die regering nie; en is totaal afhanklik van skenkings om noodverligting aan nasionale diensplig-veterane bied.
Die fonds is in Oktober 2019 gestig en kon reeds binne die eerste tien maande tot verblyf en maaltye vir 69 veterane in nood bydra.
Vir meer inligting oor die fonds, besoek veteranebystandfonds.co.za of skakel 064-705-2262 gedurende kantoorure, of stuur ’n SMS na 31429.


