Finansiële veerkragtigheid is wanneer jy voorbereid is om onverwagse finansiële aanslae te hanteer en oorkom.

Foto: Unsplash/Towfiqu Barbhuiya

Kennis oor finansiële veerkragtigheid is kennis wat vir die Suid-Afrikaanse jeug van groot waarde in hul toekoms kan wees.

Finansiële veerkragtigheid beteken dat jy voorbereid is om onverwagse finansiële aanslae te kan hanteer en oorkom.

Dit sluit onbeplande uitgawes in soos onder meer veranderinge in die ekonomie, rentekoersaanpassings of mediese noodgevalle.

Die ontwikkeling van finansiële veerkragtigheid is belangriker as ooit, aangesien dit jou in staat stel om deur moeilike tye deur te druk sonder om skadelike krediet- en skuldpraktyke aan te wend.

Só vertel Wikus Olivier, besturende direkteur by CreditSmart Finansiële Dienste.

Finansiële veerkragtigheid is wanneer jy voorbereid is om onverwagse finansiële aanslae te hanteer en oorkom.

Olivier beveel die volgende wenke aan om jou te bemagtig:

Stel doelwitte en “koester jou geldverhouding”

Jou verhouding met geld is gewoonlik persoonlik en kan deur jou agtergrond en ervarings beïnvloed word. Dit is belangrik om nie toe te laat dat vorige oortuigings, soos om besprekings aangaande geld te vermy, jou ontmoedig of definieer nie. Gebruik en sien dit as ’n geleentheid om jou finansiële doelwitte – lang- en korttermyn – te bepaal en die aksieplan wat volhoubaar vir jou unieke situasie is, aan te pas. Daar is geen een-grootte-pas-almal-oplossing in jou finansiële reis nie.

Finansiële opvoeding is belangrik – verbreed jou kennis

Die wêreld van persoonlike finansies kan intimiderend wees, verál as jy voel dat jy meer ingelig moet wees. Kyk uit vir hulpbronne soos seminare, leesmateriaal en persoonlike geldsake gesprekke op aanlynplatforms. Maak seker dat jy professionele persone of organisasies volg wat geregistreer en betroubaar is. Jy bemagtig jouself soos wat jy voortdurend jou kennis uitbrei sodat jy ingeligte besluite kan neem en die komplekse landskap van geld en finansies met selfvertroue kan aanpak.

Ken ‘n gedeelte van jou begroting toe as “spaar”

Jou persoonlike begroting of bestedingsplan is belangrik sodat jy ’n ogie kan hou op jou uitgawes en inkomste. Spaar is ’n uiters belangrike aspek van jou begroting waaraan jy voorkeur moet gee deur jouself “eerste te betaal” deur te spaar. Behandel jou spaargeld as ’n gereelde maandelikse uitgawe (al is dit aanvanklik ? klein bedrag) en sit geld opsy vir ’n noodfonds.

Handhaaf ’n goeie krediettelling en vermy onnodige skuld

Om ’n gesonde krediettelling te handhaaf (met ander woorde, om jou skuld elke keer betyds te betaal) en verantwoordelike skuldbestuur te beoefen is noodsaaklik vir jou finansiële welstand. Neem beheer oor jou finansies en maak seker dat jy jaarliks jou kredietrekord deurgaan en ingeligte besluite neem wanneer dit by bykomende krediet kom. Kitsoplossings is nie ideaal vir ernstige skuldsituasies nie. Indien jy dringend leiding benodig met jou finansies, oorweeg die hulp van ’n geregistreerde organisasie wat gereguleerde, volhoubare oplossings bied om jou uit die boeie van skuld te help verlos.

You need to be Logged In to leave a comment.