Om geld en skoonmaakmiddels vir die Bumble Bees-crèche in Kimberley in te samel, het twee finaliste van die Mnr. en Mej. Diamantveld-kompetisie vroeër vanjaar ‘n Zumba-dans-en-oefensessie aangebied.
Dié twee finaliste en leerlinge aan die Hoërskool Diamantveld, Sheri Smith en Nathan Baird, beplan om die crèche oor te verf, te verfraai en algemene herstelwerk te doen met die geld wat hulle insamel.
Aangesien ‘n crèche ten alle tye skoon en higiënies moet wees, het hulle dit goedgedink om soveel moontlik skoonmaakmiddels aan die crèche te oorhandig, wat die las van aankope in hierdie verband aansienlik sal verlig.
Die Zumba-instrukteur Colette Hendriks het die 30 deelnemers in die saal van die BVSA-motorfietsklub behoorlik laat oefen. Die saal was volgens die tema “Miami Beach Party” versier, en palmbome, wat teen geen koste deur Pro Plants verskaf is, is onder meer gebruik.
Sheri se 94-jarige ouma was ook teenwoordig en het dit terdeë geniet om te sien hoe energiek en geesdriftig die deelnemers was.
“Dit was ‘n absolute fees en terselfdertyd ‘n groot sukses,” het sy oor die geleentheid gesê.
Uniegma Med Force was op bystand om op tree indien daar enige noodgeval sou wees. Dié dienste is gratis beskikbaar gestel, en die organisasie het selfs ‘n R1 000-skenking vir die projek gedoen.
Bowendien het die projek ‘n skenking van nog R700 ingebring, asook skoonmaakmiddels van meer as R700.




You must be logged in to post a comment.