Vet vannie Land
Vet vannie Land is as die beste kort dokumentêr by die Silwerskermfees aangewys.

Vet vannie land, ‘n kort dokumentêre film wat handel oor die smokkelbedryf van endemiese vetplante wat veral in die Noord-Kaap voorkom, het verlede week drie eerbewyse tydens kykNET se Silwerskermfees ontvang.

Die kortfilm is as die beste kort dokumentêr aangewys, met Danielle McDonald wat die eerbewys vir beste regie in ‘n kort dokumentêr ontvang het, en Jurg Slabbert die eerbewys vir beste redigering in ‘n kort dokumentêr.

In dié dokumentêr vertel Pieter van Wyk, bekroonde plantkundige van die |Ai-|Ais/Richtersveld-oorgrenspark en kwekery- en herbariumkurator van die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke) van die stryd teen tyd en georganiseerde misdaad in dié afgeleë, onherbergsame Richtersveld en Sukkulente Karoo.

Pieter van Wyk
Pieter van Wyk vertel vir Bonné de Bod, digitale skepper en aanbieder van aktuele programme, meer oor die botaniese tuin by Sendelingsdrift, die eerste van sy soort. Foto: Facebook / Pieter van Wyk

Hier word unieke, endemiese vetplante tot op die rand van uitwissing gestroop, na veral die Ooste gesmokkel en ook aanlyn aan ‘n mark verkoop wat deur sosiale media gedryf word.

Terwyl internasionale sindikate miljarde dollars in die sak steek, word die plaaslike inwoners ‘n appel en ei betaal om hul lewe en toekoms in dié smokkelbedryf op die spel te plaas.

Die dokumentêr volg Van Wyk se pogings om dié unieke ekosisteem te beskerm. Werner Voight van die Suid-Afrikaanse Biodiversiteitsinstituut (Sanbi) en wat saam met Van Wyk die Richtersveld woestyn- botaniese tuin met kwekery by Sendelingsdrift ontwikkel het, tree ook in die dokumentêr op.

Saam met toegewyde natuurbewaarders en opgeleide speurhonde word die wêreld van onwettige vetplanthandel ontbloot.

Meer inligting oor die kortfilm is:
Genre: Natuur / Nature
Vervaardiger: Danielle McDonald
Produksiehuis: AWEMYBRU
Regisseur: Danielle McDonald
Redigeerder: Jurg Slabbert
Kinematograaf: Konrad Raubenheimer
Klankbaan: Mr Cat & the Jackal
Rolverdeling: Pieter van Wyk, Werner Voight

  • Vet vannie land word op Sondag 31 Augustus op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.
  • Besoek Pieter van Wyk op Facebook vir skakels na YouTube-onderhoude met hom oor dié unieke koninkryk.

You need to be Logged In to leave a comment.