De Aar gaan volgende naweek wemel van die bedrywighede met die Kÿto-Karoofees.
Op dié fees, wat van Donderdag (17/03) tot Saterdag 19 Maart plaasvind, sal talle kompetisies aangebied word.
Besoekers kan boonop na optredes deur nasionale en plaaslike kunstenaars uitsien, en kindervermaak, stalletjies, sport- en boerderyverwante aktiwiteite is op die program.
Donderdag, ná die amptelike opening, sal ’n vlot-optog deur die dorp beweeg.
Die skaaphanteringskursus word op die Hoërskool De Aar (HSDA) se sportterrein aangebied, en die Mej. Hoërskool De Aar-kompetisie vind om 18:00 in die Boet Troskie-skoolsaal plaas.
Vrydag vind die skaapskou plaas, asook die inweeg vir die groot pampoenkompetisie. Sunset Sweatshop tree die aand op.
Saterdag vind verskeie aktiwiteite plaas. ’n boerboelskou begin om 08:00, en ’n kleiduifskietkompetisie word om 08:45, 10:45 en 13:15 aangebied. Nataniël tree om 11:00 in die skoolsaal op.
Om 14:00 begin die potjiekoskompetisie, en die beesloop-geleentheid vind ook dan plaas. Sportwedstryde tussen die HSDA en die Hoërskool Sentraal van Beaufort-Wes vind om 09:00 plaas.
Dr Victor en die Rasta Rebels gaan Saterdagaand litte in die biertent losmaak, waarna ’n biefstuk-ete en dansparty in die skoolsaal plaasvind. HSDA-reüniegroepe van verskeie jaargroepe kom ook byeen.
Plaaslike kunstenaars tree deurentyd in die biertent op, en die mallemeule sal vermaak aan kinders verskaf.
Stalletjies in die klaskamers sal onder meer velskoene, kwiltwerk en parfuum te koop aanbied, terwyl buitestalletjies speelgoed, messe, leerprodukte en kos sal bied.
Kaartjies is by die toegangs- en voertuiehek beskikbaar. Geen toegangskaartjies word vooraf verkoop nie.
- Besoek die Facebook-blad Kÿto Karoofees vir die volledige program en ander besonderhede, of skakel 053-631-3691 tydens kantoorure.