Fees laat geskiedenis herleef

Hoewel die reën besoekersgetalle op die tweede In die Laer-fees buite Kimberley laat krimp het, het diegene wat dit wel bygewoon het, baie geleer en gesien.


Met ’n pyp in die mond wys Corrie Bredenhann met sy handgemaakte houtgeweer hoe ’n Voortrekker met sy voorlaaier sou skiet.

Hoewel die reën besoekersgetalle op die tweede In die Laer-fees buite Kimberley laat krimp het, het diegene wat dit wel bygewoon het, baie geleer en gesien.

Só sê Marius Nagel, organiseerder.

Die Rapportryer­beweging, Die Voortrekkers, AfriForum en Landsdiens – organisasies wat hulle vir die bewaring en bevordering van die Afrikaner-kultuurerfenis beywer – het die fees aangebied.

Lede van die Trekboer-vereniging het van Vrydag (18/03) tot Sondag (20/03) met hul ossewaens uitgespan.

“Ouers en kinders het geleer van hoe die Voortrekkers meer as ’n eeu gelede oorleef het,” sê Nagel.

“Jaco van Rensburg van die Trekboer-vereniging het Vrydag aan leerlinge van die Laerskool Staats en Eureka verduidelik hoe die Voortrekkers met hul ossewaens oor die vlaktes getrek het, en vertel wat hulle geëet het. John Roderick het vertel hoe pangewere werk en afgevuur word. Vrydagaand is kampvuurstories uitgeruil. Saterdag is ’n volkspele-vertoning gehou, en feesgangers is onder meer gewys hoe om melktert oor ’n vuur te ‘bak’.

“Die hoogtepunt vir oud en jonk was die ritte op die ossewa. Van die kinders het nooit van die wa afgeklim nie. Sondag het prof. Andries Raath, geskiedkundige, ’n tipiese Voortrekker-kerkdiens gehou en uit die Bybel van 1863 voorgelees. Dit was besonders.”

Die geld wat geïn word, word gebruik om monumente in die omgewing skoon te maak.

Vir Corrie Bredenhann (10) was dit ’n byeenkoms van sielsgenote. Dié geesdriftige seuntjie, met houtgeweer in die hand en geklee in ’n baadjie met lapelle, medaljes, ’n leerhoed, ’n kruithoring en ’n pyp, het oral glimlagte ontlok. Sy pa, Morné, sê hyself het nooit in die geskiedenis belang gestel nie, en het geen idee waar sy seun dié belangstelling gekweek het nie.

“Dit kom al vandat hy twee jaar oud is. Hy het toe al gepraat van eendag toe hy ’n oupa was. Hy vertel ons van die Anglo-Boere Oorlog en hoe hulle oorlog gemaak het. Hy het ’n passie vir monumente, museums, oudhedewinkels en alles wat met oorlog en geskiedenis te make het. Vir ontspanning gaan ek en hy Saterdagoggende na die McGregor-museum, die Moth-klub of oudhedewinkels. Wanneer ons vakansie hou, besoek ons museums.

“Met verlede jaar se In die Laer-fees het hy die voorlaaier gesien en een begeer. ’n Regte een is egter ’n bietjie duur. Toe maak hy sy eie houtgeweer. Verlede jaar het hy gesien hoe die mans pyp rook, nou het hy sy eie pyp en blikkie twak. Hy stop sy pyp met teeblare.”
Morné Bredenhann oor sy seun, Corrie.

Soos verlede jaar het Corrie, ’n lid van Die Voortrekkers, die uitstallers gehelp om seep te maak en loodkoeëls en kerse te giet.

Pa en seun se volgende projek is om ’n kakebeenwa te bou.

Dié osse het op die fees ’n ossewa getrek.

Prof. Andries Raath lei ’n tipiese kerkdiens uit vervloë dae by die In die Laer-fees buite Kimberley.

Morné en Tronel Bredenhann en hul kinders, Jané en Corrie, op die In die Laer-fees.

Jaco van Rensburg van die Trekboer-vereniging verduidelik aan leerlinge van die Laerskool Staats en Eureka hoe die Voortrekkers meer as 180 jaar gelede in die veld oorleef het.

You need to be Logged In to leave a comment.