Piet Coetzer by die ses perde van die Vreugde-Vlaamperdstoetery wat die roete saam met hom aanpak.

Foto: Facebook/Ons Karoo en Kontrei

Die volledige erfenisroete van die Vergete Grootpad-ekspedisie wat eersdaags aangepak word.

Die langste erfenisroete in Suid-Afrika – die ongeveer 1 000 km vanaf Tulbagh en Ceres in die suide tot by Kuruman in die noorde – word eersdaags bekendgestel.

Die Vergete Grootpad-roete volg die spore van antieke reisigers en is deur die !Xam, KhoeKhoe, Tswana, sendelinge en ontdekkers gebruik om tot in Sentraal-Afrika te reis.

Vir die bekendstelling van die roete sal die ekspedisie op Saterdag 22 Oktober vanaf Sutherland vertrek en vir ongeveer twee weke noordwaarts tot in Griekwastad beweeg.

Die leier van die ekspedisie is Piet Coetzer van Senekal met ’n wa en ses perde. Coetzer en sy span het verlede jaar op eie stoom en op eie inisiatief ’n deel van die Vergete Grootpad, vanaf Hopetown tot in Ceres, met dieselfde wa en ses ander perde van die Vreugde-Vlaamperd-stoetery aangepak.

Vanjaar word die ekspedisie deur die Karoo-ontwikkelingstigting (of Karoo Development Foundation, die KDF) ondersteun.

‘Mees opwindend’ sedert ‘Karoo Lam’

Die bekendstelling van die roete word as die mees opwindende projek deur die KDF beskryf sedert die registrasie van “Karoo Lam” as ’n geografiese aanwyser in 2015. Volgens hierdie aanwyser mag slegs lamsvleis wat wel uit die Karoo kom, onder dié naam bemark en verkoop word, en die lam moes in bepaalde Karoo-omstandighede grootgeword en gewei het.

Die Vergete Grootpad-roete strek deur talle streke, onder meer die Ceres-Karoo, Roggeveld, Nuweveld, Bo-Karoo, Griekwaland-Wes, Ghaap tot in die Kalahari.

Volgens ’n mediaverklaring van die KDF was die Moffat-sendingstasie in Kuruman vanaf 1823 die laaste halte vanuit die Kaap dieper in Afrika in.

Dele van die roete oorvleuel met voetpaaie wat die !Xam en ander jagter-versamelaarsgroepe gebruik het, asook die KhoeKhoe-herders met hul skape en beeste, Tswana-boere en latere Xhosa-groepe wat die Karoo in die laat-agtiende eeu betree het.

Vanaf die laat 1700’s is die pioniers, jagters, voortvlugtiges, handelaars, ontdekkers soos William Burchell, ivoorjagters en sendelinge wat drupsgewys gereis het, deur ’n sterk stroom trekboere gevolg.

Die San, Korana, Xhosa (by Prieska en Canarvon), die Griekwa by Griekwastad en die Thlaping by Kuruman, het dié inkommers op verskeie maniere ontmoet.

Dit het gewissel van handel, selfbeskikking, militêre vertoon, konflik en geestelike kompetisie.

Die hooftema van die roete is “Ontmoetings” of “Encounters”.

Met hierdie ontmoetings is daar dikwels uit ’n gemaksone beweeg om mense van ’n ander kulturele agtergrond te ontmoet.

Die roete

Die bekendstellingsroete beweeg deur onder meer Tulbagh, Ceres, Sutherland, Fraserburg, Williston, Loxton, Carnarvon, Vanwyksvlei, Prieska, Niekerkshoop, Griekwastad, Daniëlskuil, Postmasburg, Campbell en Kuruman.

“Vertakkings” van die roete sluit onder meer die suid-Vrystaat (soos Philippolis); die Witsand-natuurreservaat in die Langeberg, Olifantshoek, Kathu en Deben in.

Volgens prof. Doreen Atkinson van die KDF word die roete bekendgestel om historiese bewustheid te skep, asook besienswaardighede, aktiwiteite en belewenisse.

Suid-Afrikaners kan ook opnuut roetes verken waarop hul voorouers gereis het.

Die dorpe waardeur die roete strek bied reeds verblyf, en plaaslike inwoners kan ander temas byvoeg, soos die Tweede Vryheidsoorlog, kuns, handwerkprodukte en ekotoerisme.

Die roete sluit ten minste agt plaaslike munisipaliteite in, naamlik Witzenberg (Tulbagh en Ceres), Karoo-Hoogland (Williston, Fraserburg en Sutherland), Kareeberg (Carnarvon), Siyathemba (Prieska), Siyancuma (Griekwastad), Tsantsabane (Postmasburg), Kgatelopele (Daniëlskuil) en Ga-Segonyana (Kuruman).

Vier distriksmunisipaliteite is ook in die roete ingesluit.

Dit is die Kaapse-wynland, Sentraal-Karoo, Pixley ka Seme, John Taolo Gaetsewe en ZF Mgcawu.

Die program

  • Saterdag 22 Oktober: Vertrek vanaf Sutherland
  • Sondag 23 Oktober: Vertoef op ’n plaas langs die roete
  • Maandag 24 Oktober: Fraserburg
  • Dinsdag 25 Oktober: Plaas langs die roete
  • Woensdag 26 Oktober: Loxton-skouterrein
  • Donderdag 27 Oktober: Pampoenpoort, oos van Carnarvon
  • Vrydag 28 Oktober: Carnarvon
  • Saterdag 29 Oktober: Plaas langs die roete
  • Sondag 30 Oktober: Rusdag op plaas
  • Maandag 31 Oktober: Plaas langs die roete
  • Dinsdag 1 November: Plaas langs die roete
  • Woensdag 2 November: Prieska
  • Donderdag 3 November: Plaas naby Niekerkshoop
  • Vrydag 4 November: Griekwastad
  • Saterdag 5 November: Huiswaarts
  • Die KDF bestuur voorlopig die roete. Besoek karoofoundation.co.za vir meer inligting.
  • Vir meer inligting oor die roete, kontak vir Atkinson, ’n KDF-trustee, by doreen@karoofoundation.co.za, of op WhatsApp by 071-401-2583.
  • Vir meer inligting oor die ekspedisie, kontak vir Coetzer by pietcoetzer1@gmail.com, of op WhatsApp by 073-852-7420.

Die wa wat deur die perde getrek gaan word en verlede jaar met die Vergete Grootpad-ekspedisie gebruik is.

Kai, die worshond van Piet Coetzer, gaan weer saam op die ekspedisie, net soos in 2021.

Die sesperdewa op pad.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article