Erf bied grondslag vir jonges

Die eienaars van die Relebohile-sentrum vir vroeë kinderontwikkeling is verheug dat hulle ná 16 jaar ’n erf van die Sol Plaatje-munisipaliteit kan kry om die kleuterskool permanent te vestig.


Die eienaars van die Relebohile-sentrum vir vroeë kinderontwikkeling is verheug dat hulle ná 16 jaar ’n erf van die Sol Plaatje-munisipaliteit kan kry om die kleuterskool permanent te vestig.

Dié bewaarskool, in Diamond Park langs Greenpoint in Kimberley geleë, is jare gelede as ’n sopkombuis agter Pakiso en Gloria Tsiloane se sinkhuis begin. Volgens Pakiso het hulle in 2014 besef daar is ’n behoefte aan ’n kleuterskool waar kinders opleiding kan kry. Mense kon hul kinders hier aflaai sodat hulle kan gaan werk, of werk kan gaan soek.

Toe die egpaar se Hophuis van klinkerstene in 2018 gebou is, het hulle skenkings gekry om ’n klaskamer langs hul huis op die erf te bou.

Hulle wil die klaskamer na die nuwe erf verskuif, en nog geboue oprig.

“Oor die jare heen het ons meer as 117 kinders gehad wat gr. O-klasse by ons geloop het,” sê Pakiso.

“Hulle kon reeds lees en skryf toe hulle skool toe is, en vaar goed op skool. Van ons oudleerlinge help ook as vrywilligers en pas kinders op wat smiddae vir hul ouers wag om hulle te kom haal. Gloria pas babas op terwyl die onderwysers klas gee.”

Hulle gee die kinders een keer per dag kos.

“Dit werk uit op R7 per kind per dag. ’n Brood kos duurder as dit. Danksy skenkings kon ons die afgelope Kersfees vir elke kind ’n geskenk gee.

“Op die nuwe stuk grond wil ons geboue oprig, en ook ’n sokkerveld en groentetuin vestig. Ek wil die munisipaliteit vra of hulle spoedhobbels in die besige pad voor die kleuterskool kan bou om die kinders veilig te hou.

“Ons het die kleuterskool begin in ’n buurt waar baie ouers werkloos is sodat ons kinders van die straat af kan hou en kos kan gee. Die ouers betaal R250 per maand per kind, wat net-net ons kostes dek.”

Pakiso sê hulle kry heelwat hulp van die departement van maatskaplike dienste om na die kinders se welsyn en opleiding om te sien.

Skenkers het gehelp om die gebou op te rig en leerplanne en leermateriaal te kry.

“Ons tafels en stoele is deur ’n maatskappy geskenk, asook ons watertenk. Ons het altyd water vir ons kinders.

“Ons het reeds planne vir die nuwe gebou opgetrek wat ingedien moet word. Ek was so dankbaar toe hulle verlede jaar vir ons laat weet die driehoekige erf langs die spoorlyn is vir ons beskikbaar. Ek is onseker of ons die grond by die munisipaliteit moet koop of huur. Dit is verkieslik om die grond te koop. Dienste moet ook nog ingestel word.”

Hy sê die sakeplan is gereed, en hul aansoek om akkreditering om erkende klasse aan te bied is by die departement van onderwys ingedien.

“Ons onderwysers en vrywilligers moet formele opleiding ondergaan. Ons vroeëre aansoeke vir opleiding is nog nie goedgekeur nie, maar ons hoop dit sal nou gebeur.”

You need to be Logged In to leave a comment.