Jacobus Silver en Mathys Roets tree tydens vanjaar se Mokala-boskonsert op, wat een van die geleenthede is wat deur die ereveldwagters gereël word.

Foto: Christo Louw

As passie en toewyding meetbaar was, sou meer as R80 miljoen se skenkings van goedere, toerusting en dienste, asook 313 000 ure se vrywilligerswerk die afgelope jaar waarskynlik die meter in die rooi gedruk het.

SANParks Honorary Rangers, die amptelike vrywilligersorganisasie van die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke) vier vanjaar sy 60ste bestaansjaar.

Vir ses dekades reeds gebruik ereveldwagters hul tyd, ervaring, vaardighede en kundigheid om ’n helpende hand te verleen in die beskerming van Suid-Afrika se ryk natuurlike erfenis in die land se 23 nasionale parke.

“Die ereveldwagters se toewyding spruit uit ’n groot liefde vir die natuur. Dit is ’n inspirasie en ’n voorreg om dit te ervaar,” sê Paul Colditz, nasionale voorsitter van die SANParks Honorary Rangers.

Colditz verduidelik dat die organisasie se omvang oor die jare uitgebrei het om geldinsameling, opvoeding en steun aan veldwagters en honde-eenhede in te sluit.

“Daar is meer as 2 200 ereveldwagters – almal vrywilligers – wat in 31 streke in die land betrokke is by meer as 180 aktiewe bewaringsprojekte.”
Paul Colditz

Die grootste gedeelte van die geld word toegeken aan bewaring, steun aan veldwagters en teenstropingsinisiatiewe, soos geïdentifiseer deur SANParke. Colditz sê die werksverhouding met SANParke is uitstekend en die twee organisasies werk op alle vlakke saam.

Verskeidenheid projekte deurlopend aangebied

Ter viering van 60 jaar se passie vir die natuur in ondersteuning van SANParke word verskeie geleenthede en geldinsamelingsveldtogte beplan.

“Ons vieringe bereik ’n hoogtepunt op 9 tot 14 September tydens die Nasionale Indaba in die Tuinroete Nasionale Park,” sê Colditz.

Hierdie geleenthede laat lede van die publiek en ondernemings toe om bewaringsprojekte te ondersteun en daarby betrokke te raak deur skenkings, borgskappe en die bywoning van geleenthede.

Die organisasie het ’n paar groot nasionale projekte, byvoorbeeld die K9-projek waar hondeliefhebbers verskeie bydraes kan lewer, of die organisering van sportgeleenthede in nasionale parke. Die Embrace-projek is betrokke by programme wat omsien na die emosionele welstand van veldwagters wat byvoorbeeld in teenstropingseenhede werk.

Bennie Coetzer, tydens ’n bergfietswedren van ’n paar jaar gelede, op pad na ’n oorwinning tydens die Mokala MTB Challenge in die Mokala- Nasionale Park, suid van Kimberley. Dié jaarlikse byeenkoms word ook deur ereveldwagters aangebied.

reveldwagters se betrokkenheid strek veel verder as veldwerk.

“Ons lede neem deel aan verskeie projekte, van korporatiewe geldinsameling tot aktiwiteite in die parke. As ’n vrywilliger sal jy dalk betrokke wees by die organisering en aanbied van ’n boskamp of ’n voëlkyk-naweek, of jy kan deel vorm van ’n groep wat indringerplante verwyder. Talle lede doen diens in ruskampe of by parkhekke om SANParke-personeel te ondersteun.”

Vereistes gestel vir volle lidmaatskap
Colditz sê voornemende ereveldwagters moet eers ’n oriënteringskursus bywoon en ook ’n minimum van 50 ure se diens verrig voordat volle lidmaatskap toegeken word.

“Om aktief deel te wees van die bewaring van die natuur-erfenis waarvoor Suid-Afrika wêreldbekend is, is nie net op ’n persoonlike vlak sielsverrykend nie maar is ook ’n belegging in die toekoms van ons land.”

Besonderhede van aktiwiteite ter viering van die 60ste bestaansjaar sal op die organisasie se webtuiste, sanparksvolunteers.org, en op sosiale media gedeel word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article