Die negende Mokala-boskonsert, met Mathys Roets en Jacobus Silwer as gaskunstenaars, vind die naweek van 19 tot 21 April in die Mokala- Nasionale Park, sowat 80 km suid van Kimberley, plaas.

Jacobus Silwer (links) en Mathys Roets.

Roets het geen bekendstelling nodig nie, en ná sy motorfietsongeluk in 2009 waarna hy permanent in die onderlyf verlam gelaat is, is hy selfs ’n groter inspirasie as voorheen.

Hy skryf in sy biografie, Steeds Mathys: “Hopelik kan ek vorentoe toenemend ’n positiewe invloed hê in die lewe van ander mense in rolstoele en mense met gestremdhede”.

Silwer is ’n talentvolle sanger, liedjieskrywer en komponis van Bloemfontein. Hy dink dat musiek die beste manier is om mense bewus te maak van hoe hy voel. As hy nie komponeer of optree nie, hou hy hom besig deur te skets met ’n swart pen. Bome is sy belangrikste fokuspunt, want volgens hom is daar ’n wysheid in bome wat met hom praat.

Die twee talentvolle kunstenaars gaan na verwagting die Mokala-boskonsert ’n onvergeetlike aand maak.

Dit word jaarliks deur die SANParke-ereveldwagters in die Vrystaatstreek aangebied om die park se inkomste aan te vul.

Die Mokala Nasionale Park is ongeveer 80 km buite Kimberley.

Pakkette, waarvan die pryse bepaal word na aanleiding van die verblyf wat gekies word, sluit verblyf vir twee aande vir twee mense in, ’n ete die Vrydagaand en ’n buffet-ete en kaartjies vir die konsert Saterdagaand.

Plek is nog beskikbaar in een van die luukse boomhuise, asook in enkele chalets in Mosu, en op kampeerplek by Haak-en-steek en Motswedi.

Die Mokala-boskonsert is jaarliks ’n feestelike geleentheid onder die sterre.

Gaste het genoeg tyd om gedurende die naweek die hele park te verken. Volop wild soos gemsbokke, basterhartbeeste, bastergemsbokke, koedoes, buffels, kameelperde en swartwitpense is te sien. Voëlkykers kan na ’n groot verskeidenheid voëls uitsien.

Bel Ina Leamy by 082-202-4202 of stuur ’n e-pos na ina@sanparksvolunteers.org vir meer inligting of om plek te bespreek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article