Die 24-uur-geenstop-fietsry-uitdaging wat deur Caritas-gemeenskapsfokus en Virgin Active Kimberley aangebied word, het ten doel om geld in te samel om kinders te help wat aan seksuele of fisieke geweld blootgestel is.

Foto ter illustrasie: Unsplash/Danny G

’n Fietsry-uitdaging waarin daar vir 24-uur aaneen fiets getrap word, word eersdaags aangebied om geld vir die Kans vir ’n Kind-fonds in te samel.

Hierdie fonds van Caritas-gemeenskaps­fokus help kinders wat aan seksuele of fisieke geweld blootgestel is om terapie te ontvang. Die terapie kos ongeveer R15 000 per kind.

Esté van der Merwe, bemarkings­bestuurder van Caritas, sê hulle wil met die uitdaging drie kinders help.

’n Span bestaande uit 12 fietsryers trap vir 24 uur aaneen op ’n stilstaande fiets.

Iemand wat aan die uitdaging wil deelneem, moet ouer as 14 jaar wees, hoef nie fiks te wees nie en elkeen kan teen sy eie pas trap.

Van der Merwe sê dit is ’n ideale spanbou-geleentheid vir ondernemings en organisasies, wat boonop ’n verskil in ’n kind se lewe maak.

Dit kos R150 per persoon en die maksimum spanlede is 12.

Selfs diegene sonder ’n span kan in die “phantom”-span saamtrap. Mense wat hieraan wil deelneem, kan in enige tydperk van die 24 uur ’n draai by Virgin Active Kimberley maak en vir 30 minute teen R50 trap.

Regdeur die aand sal gelukstrekkings plaasvind, en van die pryse op die spel is vir die span met die beste gees.

Verversings sal te koop aangebied word en musiek sal gespeel word. Toeskouers is ook welkom.

Dié 24-uur-geenstop-uitdaging word deur Caritas en Virgin Active op Vrydag 29 Julie en Saterdag 30 Julie aangebied, en begin op Vrydag om 16:00 en eindig Saterdag om 16:00.

Slegs 30 spanne word toegelaat.

Vir verdere inligting, bel Van der Merwe by 082-572-3900 of stuur e-pos na marketing@caritas.org.za of bel Ronel Markram by 053-831-7690 of per e-pos by ronel.markram@virginactive.co.za

You need to be Logged In to leave a comment.