Samson Sam Mbokane kyk na Jabulani Zuma wat met hom en sy ander medebeskuldigdes in die Piet Els-moordsaak praat.

Foto: Charné Kemp

Die oomblik toe een van die beskuldigdes in die opspraakwekkende moord op Piet Els, bekende sakeman van Kimberley, kort na die misdaad sy eie Sim-kaart in die oorledene se gesteelde selfoonhandstuk gedruk het, het hy homself verklap.

Dit was die getuienis wat Vrydag (22/07) in die hooggeregshof in Kimberley aangehoor is. 

Els (86), bekende sakeman in diamantkringe, en sy vriendin Rikkie Alsemgeest, (toe 68) is met ‘n strykyster gemartel en aangerand. Els is 111 dae ná die aanval op 24 Januarie 2018 op sy plaas buite Kimberley in die hospitaal aan sy beserings oorlede. Alsemgeest het oorleef.

Die beskuldigdes is Morapeli Rankali (28) en Motlalentwa Qhautse (37), albei van Lesotho, Lizbeth Ndlala (56), Themba Lawrence Maja (68) en Oupa Jeffrey Mahomane (44), almal van Pienaar in Mpumalanga, Samson Sam Mbokane (63) van Mbombela in Mpumalanga, en Jabulani Zuma (62) van Mtubatuba, KwaZulu-Natal, wat tereg staan op ses aanklagte van onder meer huisbraak, aanranding, moord en twee aanklagte van die onwettige besit van ’n 7.65 mm-Walther-pistool en ’n .30-30-Winchester-geweer.

Zuma is die seun van oudpres. Jacob Zuma.

Luidens die klagstaat het vier mans tussen 01:00 en 02:00 Els se slaapkamer van sy huis binnegedring. Hulle het Els probeer dwing, maar later self die kluis met ‘n hoekslyper oopgesny, die inhoud gesteel en gevlug. Selfone, ‘n kamera, kontant, Krugerrande, diamante, polshorlosies, ringe, juwele en mansjetknope, vuurwapens, huishoudelike items en ‘n Mercedes-voertuig is gebuit.

Die polisie het in 2018 aanvanklik net vir Rankali en Qhautse in hegtenis geneem, terwyl ‘n ander verdagte ná sy eerste paar hofverskynings vrygelaat is.

In 2019 het die speurders ontdek dat Mahomane sy eie SIM-kaart in Els se handstuk gebruik het. Mahomane is in hegtenis geneem en sy selfoonstate geanaliseer. Sodoende het die polisie op die ander verdagtes afgekom.

Kapt. Hanlie Conradie, misdaadintelligensieanalis, het getuig dat sy al die beskuldigdes se selfoongebruik voor, gedurende en na die misdaad ontleed het om verwantskappe tussen individue te bepaal.

Volgens die selfoondata wat sy ontvang het, het Zuma op 22 Januarie om 08:23 in Kimberley aangekom. Sy foon was tot met sy vertrek op 24 Januarie om 06:47 via Boshof in die Vrystaat op verskeie selfoontorings in Kimberley bespeur. Dit beteken hy het meesal in Kimberley rondbeweeg. Op die nag van 23 Januarie 2018 en ten tyde van die misdaad in die oggendure van 24 Januarie is sy selfoon deur inkomende en uitgaande oproepe op selfoontorings in Carters Glen, Rhodesdene en Mediclinic Gariep naby die misdaadtoneel geaktiveer. Sy selfoon het daardie nag ook op torings in Phutanang, Laerskool Eureka, Hoër Tegniese Skool, Thambo-plein, Vergenoeg, Phatsimang-kollege, Galeshewe (sentraal) en Blankenbergvlei geaktiveer.

Zuma het ook verskeie oproepe na en van Mahomane, Ralihlare, Maja en Mbokane gemaak en/of ontvang.

Zuma het erken hy, Ndlala, Maja en Mahomane het dae voor die voorval van Mbombela in Mpumalanga na Kimberley gery. Hulle het deur die nag gereis en na Johannes Ralihlare (na wie hy as ene Amos verwys) se huis in Phutanang gegaan.

Zuma voer aan Ralihlare is ‘n tradisionele geneser wat hom en sy geselskap sou bystaan om geeste te verjaag en ou munte op te grawe. Hy was egter so moeg en het alkohol gebruik dat hy die hele dag en nag geslaap het, en ná ‘n onderonsie met Ralihlare onverrigte sake terug is na Mbombela.

Mahomane se selfoon is ook op die betrokke nag op torings naby die misdaadtoneel bespeur. Ralihlare, Mbokane en Maja se selfone was nie naby die misdaadtoneel nie, hoewel Mbokane baie met van die ander verdagtes gekommunikeer het. Ndlala se selfoon was nie aktief in Kimberley nie, hoewel sy vroeër erken het sy was in die stad ten tyde van die voorval.

Lt.kol. Doggie Magugu het vroeër getuig dat hy kort na die misdaad nie vir Ralihlare in hegtenis geneem het nie al het hy sekere erkennings gemaak. Toe Magugu vir hul afgespreekte afspraak by sy huis opdaag, het Ralihlare verdwyn.

Hy is steeds soek. Die verhoor word op 15 Augustus voortgesit.

You need to be Logged In to leave a comment.