Deur aan die Victoria-Wes Camino in April deel te neem, kan stappers tot die Red ’n Plaas, Red ’n Gemeenskap-rampfonds bydra. Stappers kan ook virtueel deelneem. Foto: Argief/tankwacamino.co.za


Stappers wat tree vir tree tydens die Victoria-Wes Camino tot die Red ’n Plaas, Red ’n Gemeenskap-rampfonds wil bydra, kan nog tot 2 April inskryf.

Diegene wat hetsy op sy eie, of as deel van ’n groep, skoolspan, gemeente of onderneming wil inskryf en nie die Victoria-Wes Camino kan meemaak nie, kan vir die virtuele uitdaging inskryf waaraan daar nie ’n spertyd gekoppel is nie.

Die Victoria-Wes Camino vind van 6 tot 12 April in die Victoria-Wes-distrik plaas waartydens stappers ’n afstand van 139 km oor sewe dae aflê. Ongeveer 100 stappers kan deelneem.

Dit is ’n projek van die NG kerk Sinode in die Noord-Kaapland en word in noue samewerking met die Agri Noord-Kaap Foundation en Tankwa Camino aangebied.

Dit word deur die Caritas-gemeenskapfokus administreer.

Die rampfonds het ten doel om humanitêre en pastorale hulp te verleen met rampe in die Noord-Kaap.

Plattelandse gemeenskappe in die Noord-Kaap word gereeld deur droogtes en ook vloede langs die laer Oranjerivier geteister, met ’n drastiese toename in veldbrande. Hierdie rampe het ’n langdurige invloed.

  • Besoek rednplaas.org.za; of tankwacamino.com/caritas-red-n-plaas-camino; asook Red ’n plaas Red ’n gemeenskap op Facebook.

You need to be Logged In to leave a comment.