Elf toets positief by die Black Mountain-myn

Elf werknemers van Black Mountain-myn het tot dusver positief vir die koronavirus getoets.


Elf werknemers van Black Mountain-myn het tot dusver positief vir die koronavirus getoets.

’n Verdere agt mynwerkers wag nog op hul toetsuitslae en is onder kwarantyn geplaas, sê Shanice Franks, woordvoerder van die Black Mountain-kompleks.

“Tot dusver het drie van ons werknemers hul isolasietydperk van 14 dae voltooi, het mediese evaluering ondergaan en was medies geskik verklaar om te werk.”

Hoewel die werknemers nie gedurende hierdie tyd op die perseel is nie, het die myn verskeie voorkomende maatreëls getref om die gemeenskap veilig te hou, sê Franks.

Die voorsorgmaatreëls sluit in bewusmaking en opleiding van Covid-19, daaglikse temperatuur-monitering vir alle mense wat die myn binnekom, streng reisprosedures terug na die werksplek en sosiale afstand- en higiëne-maatreëls.

Franks sê die myn het ook meer as 600 kospakkies, talle maskers in die Khai-Ma-gemeenskappe soos Pella, Pofadder, Witbank en Onseepkans en uitgedeel.

Verskeie skole het maskers en termometers as skenkings van die myn ontvang.

Altesaam 50 liter handontsmettingsmiddels is aan die Khai-Ma-munisipaliteite en die Namakwa-distrik geskenk.

Vier ouetehuise en twee sentrums vir persone met gestremdhede in die munisipale gebiede van Khai-Ma en Nama Khoi het kospakkies en doeke van die myn ontvang.

Voedselprodukte soos vleis is aan die Pofadder-ouetehuis en Kinderhuis geskenk.

Die myn het ook water aan polisielede wat by padblokkades aan diens is, geskenk.

Higiëniese noodsaaklikhede soos risiko-beheerpakke, maskers, veiligheidsbrille en handontsmettingsmiddels is aan distriksowerhede versprei. Die departement van maatskaplike ontwikkeling het ook kospakkies ontvang.

You need to be Logged In to leave a comment.