Martha van Zyl, hoof van die Elizabeth Conradie-skool in Kimberley. Dit is ’n skool vir leerlinge met fisieke gestremdhede.

Foto: Charné Kemp

Vanjaar, en volgende jaar, gaan ’n blink jaar vir die Elizabeth Conradie-skool vir leerlinge met fisieke gestremdhede (Elcon) wees.

Nie net is Martha van Zyl wat reeds tien jaar by die skool werksaam is vanjaar heeltyds as hoof by dié skool in Kimberley aangestel nie, maar is skooluniforms opgehelder en nuwe heldergroen dasse bekendgestel.

Die gebouekompleks se dakke en plafonne word vervang en ander noodsaaklike herstelwerk gedoen.

Die skool se 21 matrikulante het verlede jaar ’n 90%-slaagsyfer in die nasionale seniorsertifikaateksamen behaal, en dit is daarom onder die 13 topskole in die Frances Baard-distrik.

Boonop heers groot opgewondenheid oor ’n groep leerlinge wat aan die einde van Maart in Kaapstad aan ’n sportbyeenkoms vir leerlinge met gestremdhede gaan deelneem.

In die komende vakansie gaan twee nuwe, veiliger ingange by die skool geskep word om verkeersveiligheid te verbeter, en ’n groot makietie word vir volgende jaar beplan wanneer die skool 50 jaar oud word.

Die skool huisves 400 leerlinge van gr. R tot gr. 12; en 120 personeellede, wat onderwysers, ondersteuningspersoneel en die beheerliggaam, insluit, is by die skool betrokke.

Tog het die skool heelwat uitdagings, sê Van Zyl.

“Elke sent moet drie keer omgedraai word, planne moet bedink word. Ons leer almal om vindingryk te dink. Ons het te min fisio-, arbeids- en spraakterapeute wat na die kinders se gesondheid omsien.

“Die terapeute is net een dag per week vir ons leerlinge beskikbaar omdat hulle ook na ander skole moet gaan. Omtrent net leerlinge in die laer grade kan die terapeute spreek.”

Die behoefte aan ’n berader of skoolsielkundige is groot.

“Ons moet self beraders betaal om na ons leerlinge se behoeftes om te sien. Dit is verskriklik vir ’n kind met spierdistrofie om te sien hoe sy of haar liggaam agteruitgegaan. Of ’n leerling wat nie-gestremd voor ’n motorongeluk was, wat nou op tienjarige ouderdom ’n parapleeg is. So ’n kind moet emosioneel ondersteun word.”
Martha van Zyl

Vroeër jare het die skool genoeg terapeute gehad en is die siekeboeg 24 uur ’n dag bedryf.

“Ons het net genoeg verpleegpersoneel wat bedags tussen 08:00 en 16:00 werk. Daar is nie personeel wat snags leerlinge met erge gestremdhede kan versorg nie. Die betrokke leerlinge moet daagliks met ’n bus skool toe aangery word omdat hulle nie in die koshuis kan bly nie.

“Dit sal wonderlik wees as die departement van gesondheid in samewerking met die onderwysdepartement maandeliks ’n kliniek vir kinders en volwassenes met gestremdhede by die skool kan aanbied waar spesialiste hul dienste aanbied.”

Een oogmerk is om ’n afsonderlike afdeling vir kinders met outisme te skep, waar na hul unieke behoeftes in aparte klasse omgesien kan word.

Van Zyl sê die skool steun op die gemeenskap se ondersteuning.

“Kimberley se mense is wonderlik. Mense gee gereeld enigiets van klere tot matte, alles goed wat ons kan gebruik. Ons huur een van ons geboue aan ’n private skool uit vir ’n inkomste, en ’n ander gebou word as ’n gastehuis benut vir geleenthede soos die Wildeklawer-sporttoernooi.”

Die skool moet herstelwerk by die koshuise doen, wat baie geld kos. Weens omstandighede het onderhoud oor die jare heen agterweë gebly en het lekkende dakke plafonne laat inval, het pleister van mure afgeval en is die elektriese bedrading onveilig op sekere plekke.

Vermeulens Built It het gehelp om een koshuis te herstel.

“Ander maatskappye hou geldinsamelingsgeleenthede vir ons. Ons is juis besig om geld vir die sportbyeenkoms in Kaapstad in te samel. Die leerlinge gaan aan tafeltennis, gewigoptel, boccia en fietsry deelneem. Dit kos R9 000 per leerling vir die vervoer en verblyf.

“Sportdeelname gee die leerlinge soveel selfvertoue en maak nuwe wêreld vir hulle oop.

“Ons leerlinge lê ons onderwysers baie na aan die hart. Elke mens het die reg tot lewensgeluk en die kinders is met so min tevrede. Hulle sit in rolstoele of het nie al hul ledemate nie, maar vir hulle is die lewe ’n lied. Ons wil hulle geborge laat voel; menswaardigheid, ’n waardestelsel en selfvertroue gee.

“Wanneer hulle die dag die skool verlaat, hoef hulle nie ’n tree agteruit vir enigeen te staan nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article