Professor Ignatius Gous, emeritus professor voorheen verbonde aan Unisa, is ’n spesialis in doeltreffende leermetodes. Hy deel sy insigte oor studie- of leer metodes (oftewel bemeesteringstrategieë), juis omdat leer oor soveel meer as leer vir ’n toets of eksamen gaan. Gous vertel ook hoe leerlinge kunsmatige intelligensie (KI) doeltreffend kan inspan om hulle met skoolwerk te help.
Is dit moontlik om lank voor eksamens te begin leer aangesien leerlinge se lewe so vol en besig is?
Bogenoemde is bykans onmoontlik as ons leerprogram afhang van of ons lus is om te leer. As mens wag totdat jy gemotiveerd voel om te leer, lei dit gewoonlik tot laaste minuut, deurnag paniek-leer.
Doen die volgende:
- Kry sisteme en gewoontes in plek. Top sportmense presteer omdat hulle oefenprogramme in plek het, en afsprake op vasgestelde tye met hulleself, hul afrigters en spanmaats. Hulle kom dit na, of hulle lus is of nie. Leer is dieselfde.
- Stel ’n program op. Skryf neer waaraan jy tyd bestee – skoolgaan of klastye, sport, kultuuraktiwiteite, jou sosiale program. Bepaal wat jy doen wat nuttelose tydgebruik is, soos byvoorbeeld breindood-foontyd. Stel die “dooie tye” in jou dag vas, soos wanneer jy pendel, of tussen klasse. Dan kyk jy hoeveel tyd daar is vir leer en studeer.
- Maak tyd. As jou potensiële leertyd minder as drie tot vier uur per dag is, moet jy aan ander aktiwiteite begin sny. Mens word nie ’n topatleet deur 15 minute per dag te oefen nie. Mens kom nie matriek deur met ’n uur per dag se leer nie. Maak tyd – staan ’n halfuur vroeër op, eet 15 minute korter, beperk foontyd, beplan wat jy in dooie tye kan doen. As jy dan vier uur per dag beskikbaar het, beplan hoe jy lank voor die tyd kan begin leer, en ook ’n lewe kan hê.
Hoe rig mens beskikbare leertyd in om die beste te maak?
- Neem bestek van wat jy moet studeer. Hoeveel vakke? Hoeveel bladsye? Stel vas hoe lank dit tipies neem om vyf of tien bladsye van ’n spesifieke vak deur te werk. Doen nou jou somme, byvoorbeeld om in die beskikbare tyd tot en met die eksamen ten minste twee keer deur elke vak te kom, moet jy dalk 20 sessies van 30 minute elk insit. Dan verdeel jy dit in die beskikbare tye, verspreid oor die tydperk tot daardie eksamen. Die voordeel hiervan is dat mens die werk happie-vir-happie baasraak. ’n Mens kan ook elke dag ’n paar vakke doen, en nie net een vak voor ’n eksamen leer wat dan tot deurnag paniek-leer vir die ander vakke kan lei nie.
- Span KI in. Dit is ’n handige hulpmiddel om te help om studieroosters op te stel. Vra die KI-program wat jy verkies om vir jou ’n studierooster op te stel volgens jou spesifieke behoeftes. Jy “prompt” dus die KI-program.
Voorbeeld: Gee die volgende inligting vir die KI-program: Jou beskikbare tyd, die hoeveelheid vakke en bladsye, hoe lank tyd daar is voor die toets of eksamen, hoeveel keer jy deur die werk wil gaan, ensovoorts. Hoe meer inligting jy verskaf, hoe beter sal die werkbare studierooster wees wat jy net so kan gebruik.

Is daar studiemetodes of leerstyle wat vir een gaan werk, maar nie vir ander nie?
Navorsing het bewys dat spesifieke leerstyle nie werk nie. Hoewel gesê word dat ons almal uniek is, is daar sekere strategieë wat almal moet doen en volg om te leer. Dit maak nie saak waar ons vandaan kom, of wat ons belangstellings is nie. Ons het almal dieselfde universele onderbou van die brein. Die brein verander fisies as ’n mens leer – nuwe senuweebane en verbindings word gevorm en op die manier ontwikkel die neuroplastisiteit van die brein.
Ses fases wat moet deel uitmaak van leer:
- Om daar te wees en te fokus op wat jy moet leer sodat jou brein kan ontwikkel, bou en groei.
- Om bewus te wees waaraan jy werk – om te weet watter kennissstruktuur jy besig is om te bou. Gebruik jou handboek om te bepaal waaroor jy op daardie tydstip gaan leer, wat jy reeds geleer het en wat nog kom.
- Stel vas of jy die werk kan baasraak om jou motivering te behou. Vluglees deur die werk om ’n oorsig te vorm, kyk dat jy die tegniese terme verstaan, lees die opskrifte, en so meer.
- Maak seker jy weet hoekom jy die werk moet leer en hoe jy dit kan gebruik.
- Verstaan wat jy leer en lê dit vas in jou brein. Dit is wanneer herhaling belangrik is.
- Toets jouself die hele tyd terwyl jy deur die werk gaan. Lees ’n gedeelte, kyk weg, probeer om dit wat jy so pas gelees het, te herroep. Die gedeeltes wat jy dalk vergeet het, kan jy weer herhaal. As jy die gedeelte baasgeraak het, sit ’n rukkie agteroor en doen niks nie.
Hoe kan leerlinge KI inspan om hulself te toets?
’n Praktiese voorbeeld: Gebruik ’n brondokument in pdf-formaat op jou foon/rekenaar/tablet en vra jou spesifieke KI-program (Grok ai, Gemini, ChatGPT, Deep Seek, ens.) om vir jou vrae op te stel – van maklik na moeillik – om jou kennis te toets.
LEES OOK: Benut kunsmatige intelligensie, wêreldwye web vanaf Afrikaanse platform
Jy kan ook jou antwoorde in korter paragraafvrae intik en die KI-program vrae om aan die hand van jou oorspronklike brondokument jou antwoord te krit – wat het jy goed gedoen, wat kan verbeter, en so meer. Selfs met wiskunde kan KI jou help verstaan watter kennis jy kortkom om ‘n spesifieke probleem baas te raak. Met tale kan jy ‘n opstel skryf en KI vra om dit te merk en terugvoer te gee. Jy kan uit KI se kommentaar leer.
Is KI nie gevaarlik vir leer nie?
Baie mense is bang dat KI leerlinge se breine gaan lui maak, maar dit hang af van hoe ’n mens dit gebruik. KI is nie daar om die werk namens jou te doen nie. Dit kan leerlinge wel help om beter te leer en op daardie manier kan KI juis leer ontsluit.
Gebruik KI as ’n bondgenoot in leer – Gous noem dit ‘n “BOM-genoot” met Begelei, Ondersteun en Meetmaat as kern.
- Begelei. Ontdek saam die feite en konsepte en som op.
- Ondersteun. KI is geduldig en altyd beskikbaar om te verduidelik oor hoe om iets aan te pas, te ontdek en te verduidelik.
- Meetmaat. Deur toetse saam te stel om kennis te toets. Onderwysers kan ook hiervan gebruik maak.
Omarm die nuwe tegnologie. KI is onafhanklik van onbevoegdheid en kan ongeag probleme in onderwys en onderrig ’n nuttige hulpmiddel wees, maar dit sal net werk as jy wil leer.
Nuttige gebruik van “dooie tye”
Span KI in. Berei jou leermateriaal voor om tydens hierdie dooie tye te gebruik, soos foto’s op jou foon, of NotebookLM se opsommings. KI is kragtig om dooie tye te vul. So wen jy ekstra tyd. KI kan potgooie maak uit brondokumente waarna jy tydens jou pendeltyd kan luister, of opsommings maak waardeur jy kan lees wanneer jy ekstra tyd het.
- Saamgestel deur Annelie van Jaarsveldt en professor Ignatius Gous, Afrikaans.com






You must be logged in to post a comment.