Leer jou kind van kleins af om te herwin deur herwinningsasblikke in die huis te hê.


Om die planeet vir die nageslag te bewaar moet ’n geslag groot­gemaak word vir wie die bewaring van ons planeet belangrik is.

Om dit te bereik moet jy van kleins af ’n liefde en bewondering vir die natuur by jou kinders kweek.

Maak eenvoud ’n kernwaarde

Die verbruikerskultuur probeer ons oortuig dat ons nie genoeg het nie. Deur as huishouding ’n eenvoudiger leefwyse te kies, help jy jou kinders om te waardeer wat hulle het. Hoe minder vol ons fisieke ruimtes is, hoe makliker is dit om die mooi rondom ons te waardeer. ’n Eenvoudiger leefwyse is nie gelyk aan ’n minderwaardiger leefwyse nie.

Sê saam ‘nee’

Elke keer dat ons ’n voubiljet by ’n verkeerslig neem, ’n plastieksak by ’n winkel aanvaar of ’n konferensiesak vol goedjies huis toe bring, sê ons daarvoor ja. Sodoende skep ons nie net ’n aanvraag daarvoor nie, maar keur ons ook die mors van hulp­bronne goed. Leer jou kind om hoflik nee te sê vir goed wat hulle nie nodig het nie. Help mekaar deur te vra of julle regtig nog ’n pen, besigheids­kaartjie of magneet nodig het. Die antwoord is selde ja.

Dink anders oor speelgoed

Kwaliteit bo kwantiteit is ’n goeie riglyn wanneer dit by speelgoed kom. Koop eerder vir jou kind minder, maar meer duursame speelgoed. Kies eenvoudiger speelgoed wat jou kind uitdaag om sy verbeelding te gebruik. Veral houtspeelgoed is ’n goeie keuse. Oorweeg dit om speelgoed, soos byvoorbeeld Lego-blokkies en fietse, tweedehands aan te koop. Vermy ook die aankoop van enige speelgoed wat batterye benodig.

Hergebruik artikels

Leer jou kind om artikels weer en weer te gebruik. Bekyk as gesin dit wat julle wil weggooi of herwin, en vra julself af: “Hoe kan ons dit weer gebruik?” ’n Leë glasbottel kan as ’n drinkglas, blompot of houer vir oorskietkos gebruik word. Ou koffieblikke maak lekker houers vir kryte en speelgoed. Hou geskenkpapier, linte en bokse vir spoeg-en-plak-aktiwiteite.

Koop tweedehands

Leer jou kinders dat die koop van tweedehandse artikels nie ’n probleem is nie. Kyk uit vir plat­forms of gemeenskaps­groepe waar klere, boeke en speelgoed gekoop en verkoop word. Klere en speelgoed kan ook van ouer niggies en neefs, maatjies of bure geërf word.

Kweek kos

’n Groentetuin is ’n wonderlike manier om vir kinders te leer waar die kos op hul bord vandaan kom. Of dit nou kruie in ’n pot, ’n paar vrugtebome of ’n groentetuin is, laat jou kind toe om verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar.

Maak ’n herwinningshoekie

Begin om plastiek, glas, blik en papier te herwin. Koop of maak ’n paar houers en skep ’n herwinnings­hoekie. Leer as huishouding saam die herwinnings­nommers op plastiekverpakking en herinner mekaar daaraan om in die winkel te kyk of ’n produk se verpakking wel herwinbaar is.

Kry ’n komposhoop

’n Komposhoop of erdwurmplaas maak ekologies sin as jy in ag neem dat ’n derde van huishoudelike vullis organies is. Baie inligting oor kompos­hope en erdwurm­plase is op die internet beskikbaar. Doen saam as huis­houding navorsing oor die opsie wat die beste vir julle gaan werk.

Sit ligte af

Maak elektrisiteitsbesparing ’n voorkeursaak. Moedig mekaar aan om ligte, rekenaars en die televisie af te skakel wanneer dit nie gebruik word nie. Benut beurtkragtye om met jou kind oor die belang van elektrisiteitsbesparing te praat.

Doen saam inkopies

Neem jou kinders saam om inkopies te doen. Soek ook saam na omgewingsvriendelike verpakking. Probeer om los groente, vrugte en gebak te koop. Neem lapsakkies saam om kos in te verpak, sodat julle nie plastieksakkies hoef te gebruik nie.

Wees waterwys

In ’n waterskaars land is dit belangrik dat die kleinspan leer om altyd spaarsamig met water om te gaan. Kies om waterwys te leef. Daar is eenvoudige maniere om water in en om die huis te spaar, soos om korter te stort, die kraan toe te draai wanneer julle tande borsel, slegs die skottelgoed- en wasmasjien aan te skakel wanneer dit vol is en waterwyse plante te plant.

Leer saam

Lees as gesin saam boeke of kyk dokumentêre programme oor die wonder van ons planeet. Om saam die name van diere, voëls, insekte en bome te leer is nie net pret nie, maar ’n wonderlike manier om gehaltetyd saam deur te bring. Maak saam ’n lys van voëls en insekte wat julle in jul omgewing sien. Plak die lys op die yskas sodat nuwe spesies by die lys gevoeg kan word.

Fay van Eeden, Netwerk24

You need to be Logged In to leave a comment.