Die minister van gesondheid het Vrydag 17 November tydens ’n besoek aan die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaalkompleks in Kimberley gesê hulle werk saam met die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) om vals mediese regseise uit te snuffel.
Die personeel en toerusting by die hospitaal was volgens dr. Joe Phaahla, minister, op standaard en het hom bemoedig. Dr. Esmé Olivier, waarnemende hospitaalhoof, dr. Alistair Kantani, waarnemende departementshoof, en Maruping Lekwene, LUR vir gesondheid, het die minister vergesel.
Hulle het die kanker- en dialise-eenheid, kraamsale, eenheid waar vroeggebore baba’s versorg word en die sale vir brandwonde en diabeteslyers besoek. Phaahla het ook met pasiënte in die ry by die noodgevalle-ontvangsaal gepraat.
Phaahla sê die personeel se moraal en motivering is positief. Sy departement vul nou vakatures vir spesialiste ondanks ’n geldtekort.
Gedurende sy saalrondes het Phaahla verneem hoe ’n 14-jarige meisie ’n histerektomie moes ondergaan nadat haar ingewande tydens ’n keisersnit by ’n ander hospitaal beskadig is en sy sepsis opgedoen het. Daar was ook ’n geval van ’n 15-jarige meisie in Postmasburg wie se baba by geboorte dood verklaar is, maar steeds gelewe het. Die baba is na Kimberley gehaas, maar is drie dae later dood.
“In die betrokke gevalle sal ons ondersoek instel en verseker dat dokters en verpleërs wat in afgeleë plekke werk die nodige kennis, ervaring en ondersteuning het. Hulle moet gereeld verdere indiensopleiding ondergaan, veral wat noodgevalle betref. Ek het self in ’n afgeleë plek naby die Kruger-wildtuin gewerk. Dokters wil net die beste prosedure in ’n noodgeval doen om ’n lewe te red, veral as die naaste groot hospitaal honderde kilometers ver is.”
Mediese nalatigheidseise skiet deur die dak. Hy sê die departement verloor sommige eise weens swak rekordhouding.
Phaahla ontken die DA se beskuldigings dat daar weens wanbetaling ’n tekort aan mediese voorrade en medisyne in die Noord-Kaap is. Hy gee egter toe dat verskaffers nie altyd betyds betaal word nie.
Dr. Isak Fritz, DA-LW, sê net sowat 20% van verskaffers word op ’n maandelikse basis ten volle betaal. Die gebrek aan medikasie sluit in medisyne vir diabetes en hoë bloeddruk, pynstroop, naalde en spuite, IV-toedieningstelle, ortopediese vulling, chirurgiese handskoene, hipodermiese naalde, tongdepressors, digitale termometers, urine-dreineringsakke, kateters en kateterpakke en paraffiengaas. Die probleem is veral erg in die Pixley Ka Seme-distrik.
Volens Phaahla het hulle ’n elektroniese stelsel wat tekorte by klinieke aandui. “Die ernstige tekorte wat tydens die pandemie ervaar is, is nie meer so erg nie. Ons voorrade is op aanvaarbare vlak met 80% tot 90% van voorrade wat beskikbaar is. Die DA se stellings is misleidend.”





