Brenda Mpamba, voormalige burgemeester van die Thembelihle-munisipaliteit in Hopetown.

Foto: Facebook/Brenda Mpamba

Brenda Mpamba, ‘n ANC-raadslid en ‘n voormalige burgemeester van die Thembelihle-munisipaliteit in Hopetown, moet weer op 18 Oktober in die plaaslike landdroshof op twee aanklagte van bedrog verskyn.

Sy het na bewering vals amptelike eise vir reise ingedien.

Intussen het Amanda Penxa, ANC-woordvoerder van die Pixley ka Seme-streek in ? verklaring bevestig dat Mpamba as die tesourier vir die streek opsy staan.

“Die opsystaanreël is deel van die ANC se strewe om te hernuwe. Hoewel Mpamba nie meer aan ANC-bedrywighede mag deelneem nie, dien sy steeds as ‘n ANC-raadslid van die dorp. Sy sal weer haar party-pos vul wanneer sy onskuldig bewys is. Haar besluit is prysenswaardig.”
Amanda Penxa

Mpamba dien ook op die Vereniging van Plaaslike Regering (Salga) se Noord-Kaapse uitvoerende provinsiale raad.

Kapt. Tebogo Thebe, Valke-woordvoerder, het bevestig dat Mpamba tereg staan op twee aanklagte van bedrog. Haar eerste verskyning was op 4 Oktober, en sy sal weer op 18 Oktober verskyn.

“Die aanklagte hou verband met bewerings dat sy geld vir reiskoste by die munisipaliteit geëis het, terwyl die reise nie plaasgevind het nie.”

Die politieke omwentelinge in die betrokke munisipaliteit het oor die jare opspraak verwek. Die jongste was ná verlede jaar se munisipale verkiesing toe Mpamba weer die ANC se burgemeesterskandidaat was nadat sy in die vorige termyn as eerste burger gedien het.

Die ANC hou 5 van die 11 setels, die EFF 3, en die DA, VF Plus en die Siyathemba-gemeenskapsbeweging (SGB) 1 setel elk.

Volgens Danny Jonas, SGB-lid en Thembelihle-speaker, het die SGB en ANC ooreenkomste om mekaar se kandidate in die Thembelihle- en Siyathemba-munisipaliteit in Prieska as burgemeesters te verkies.

Die vonke het egter gespat toe hy teen sy party se voorskrifte in ’n déjà vu-oomblik nie vir Mpamba as ANC-burgemeesterskandidaat gestem het nie, maar vir die EFF se Leonard Makena.

“Ek het na die pleidooie van die gemeenskap geluister,” sê Jonas. Hy het na die vorige munisipale verkiesing in 2011 ook strydig met sy destydse party se voorskrifte nie vir Mpamba as burgemeester gestem nie.

Die DA en die VF Plus het verlede jaar ook vir Makena gestem, wat toe as burgemeester verkies is. Jonas en Makena is onderskeidelik as speaker en burgemeester na ‘n chaotiese raadsvergadering in Desember 2021 deur ANC-raadslede uit die kussings gelig.

Hulle het hulle na die hof gewend en is vroeër vanjaar in hul poste heraangewys. Jonas sê hy en Makena het die nasionale tesourie genader waarna ‘n forensiese ondersoek in Augustus vanjaar by die munisipaliteit gedoen is.

Intussen is Jonas met die SGB in ‘n hofstryd gewikkel weens bewerings dat die party hom onreëlmatig geskors het.

Wynand Boshoff, VF Plus-LP, sê sy party aanvaar dat enige beskuldigde onskuldig is tot die teendeel bewys is.

“Ons verwelkom Mpamba se hofverskyning. Die munisipaliteit het oor die afgelope jare swak presteer, hoewel die omringende ekonomie betreklik goed vaar. Bewerings van korrupsie was algemeen, maar ondersoeke het onvoldoende getuienis vir vervolging gelewer. Sedert opposisiepartye verlede jaar die bewind oorgeneem het, het korrupsie-ondersoeke egter rigting begin kry.

“Die sage bewys weer eens hoe belangrik dit is dat een party nie die politieke toneel oorheers nie. In Thembelihle het partye wat nie in ‘n koalisie is nie saamgewerk om die ANC uit die plaaslike regering te verwyder. Dit het die weg vir ‘n deeglike ondersoek geopen.”
Wynand Boshoff

Jonas was as ANC-raadslid na die 2011-munisipale verkiesing veronderstel om vir Mpamba as burgemeester te stem, maar het vir homself gestem. Die ANC het daarna sy lidmaatskap opgehef, waarna hy weer as ‘n onafhanklike raadslid na ‘n tussenverkiesing ingekom het en as burgemeester verkies is.

Jonas het toe in die munisipale verkiesing in 2016 as EFF-kandidaat gestaan, waarna die destydse LUR van samewerkende regering hom hof toe gesleep het nadat laasgenoemde se vertoë by die Onafhanklike Verkiesingskommissie misluk het.

Die LUR het aangevoer Jonas het sy status as onafhanklike raadslid prysgegee toe hy hom as EFF-kandidaat beskikbaar gemaak het en ‘n vakature verklaar word. Jonas het dié hofstryd gewen vanweë ‘n gebrek aan bewyse dat hy ‘n lid van die EFF is. Hy het nie ná die verkiesing in 2016 as raadslid gedien nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article