‘n Saak van poging tot moord word deur die polisie ondersoek nadat ‘n man tydens ‘n beplande gemeenskaps-protesaksie op Maandag 14 Julie naby die N8 in Greenpoint, Kimberley, gewond is.

Sewe persone, insluitend ‘n minderjarige, is ook tydens die aksie deur lede van die openbare orde polisiëringseenheid van Kimberley vir beweerde openbare geweld in hegtenis geneem, sê kol. Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder.

Die gemeenskaps-aksie, wat aanvanklik ‘n “shutdown” genoem is, is later na verwys as ‘n “planned peaceful march”. Dit is deur die Kimberley Action Group (KAG) gereël, en onder meer deur die Community Alliance South Africa (Casa) ondersteun.

Inwoners, wat hul stem laat hoor het oor onder meer swak dienslewering in die Sol Plaatje-munisipaliteit, voor die premier se kantoor op Maandag 14 Julie. Op die een plakkaat is die woorde: “High electricity dirty water killing us” Foto: Helena Barnard

Tydens die aksie het groepe mense uit verskeie woonbuurte na die premier se kantoor in Memorialweg gestap. ‘n Groep wat vanaf Greenpoint wou stap, is glo deur die polisie verhoed om so te doen. Konflik het ontstaan en na bewering is enkele burgerlike voertuie wat op die N8 gery het, met klippe bestook. Rubberkoeëls is gebruik om die persone uiteen te jaag.

In dié konflik is ‘n inwoner van Greenpoint om ongeveer 10:15 met lewendige ammunisie gewond.

In foto’s wat NoordkaapBulletin ontvang het, is ‘n koeëlwond aan die voorkant van die man se lyf, in die maag-area sigbaar, met ‘n koeëlwond aan die rugkant. Die man is glo in die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal opgeneem. Inwoners sê die gewonde man is ‘n jeugdige van ongeveer 19 jaar oud, terwyl die polisie in ‘n verklaring sê die persoon is 36 jaar oud. Teen druktyd kon sy ouderdom nie bevestig word nie.

Polisielede by die N8-brug net voor Greenpoint. Foto: Helena Barnard

Volg op ‘gebrek aan ingryping, reaksie’

Die protesaksie volg op die gebrek aan ingryping en reaksie van plaaslike en provinsiale owerhede oor klagtes wat voorheen ingedien is. Dit sluit swak dienslewering, onbevoegdheid, beweerde korrupsie, onbekostigbare tariewe, versuim om informele skikkings te formaliseer, eensydige besluitneming, nepotisme, die oorsien van plaaslike inwoners wanneer geleenthede ontstaan, en versuim om die hoë voorkoms van werkloosheid te hanteer.

Die verwydering van die speaker van die Sol Plaatje-munisipaliteit, Dipuo Peters, is ook op die lys. Peters, sowel as Martha Bartlett as uitvoerende burgemeester, is tydens ‘n “chaotiese raadsvergadering” in Desember verkies. Peters het Nomazizi Shwababa as speaker vervang, en Bartlett die jeugdige Kagisho Sonyoni, wie se aanstelling van die staanspoor omstrede was.

Oor dié aanstellings het die premier van die Noord-Kaap, dr. Zamani Saul, gesê Peters en Bartlett is ervare leiers met jare se ervaring. Hulle is “aan die diep kant ingegooi” om onder meer diensteprobleme in die Sol Plaatje-munisipaliteit te help oplos. Saul het gesê as die grootste munisipaliteit in die provinsie, moet dienslewering by dié munisipaliteit doeltreffend verloop en dat “kleiner munisipaliteite by hulle moet leer.”

Plasings op sosialemediaplatforms dui aan dat dié dienslewering nie na wense is nie.

Op die Facebook-blad Kimberley Action Group skryf Boyce Makodi van die KAG (vertaal): “Ons leef in toestande wat geen mens gedwing kan word om te aanvaar nie. Armoede het ons daaglikse metgesel geword. Rioolwater stroom in ons strate asof dit hierdie dorp besit. Die water is vuil. Werk is nêrens te vinde nie. Tog word daar van ons verwag om te betaal vir buitensporige basiese munisipale dienste asof ons in luuksheid leef.

“Dit is nie regering nie, dit is ‘n stadige en doelbewuste doodsvonnis vir die mense van Kimberley. Die stelsel wat julle verdedig, is onherstelbaar stukkend. Dit is disfunksioneel, wreed en afgesonder van die werklikheid op die grond. Julle sit in julle kantore terwyl die dorp om ons ineenstort.”

‘Afskuwelike toestande in buurte’

“Die Noord-Kaap en Kimberley was die skoonste, mooiste plek. Kyk hoe lyk dit nou,” sê ‘n vrou wat deel van die groep was. Terwyl sy dit sê, wys sy na ‘n stroom rioolwater wat uit ‘n mangat skuins oorkant die pad van die premier se kantoor vloei, en enkele meters weg van ‘n wegneemete-restaurant. Dié rioolwater, kan inwoners getuig, oorstroom reeds ‘n geruime tyd.

Rioolwater stroom uit dié mangat, wat skuins oor die straat van die premier se kantoor is. Foto: Helena Barnard

In ‘n skrywe wat Boyce Makodi van die KAG vroeër in Julie aan besighede in Kimberley gerig het, skryf hy: “Our survival as a city is at stake. We are on the edge of collapse, services are deteriorating, governance is failing, and accountability has disappeared”.

‘n Inwoner van Greenpoint, Dawid Jooste, vertel dat die toestande in Greenpoint ”afskuwelik” is en dat nie veel verbeterings of ontwikkeling plaasgevind het vandat hy dekades gelede soontoe verhuis het nie. Vullisverwydering vind glo net elke twee, soms elke drie weke plaas. Buitelandse winkeleienaars speel baas en bejaardes het geen sê nie. Jongmense het maklike toegang tot dwelms ”sodat hulle nie verder dink nie”.

Bassil Herbert (HB) Japhta van Casa sê dié gemeenskapsorganisasie wat die reënboognasie verteenwoordig het besluit om KAG in die aksie te ondersteun omdat dieselfde griewe in elke woonbuurt in die dorp is

Bassil Herbert (HB) Japhta van die gemeenskapsorganisasie Casa, by twee inwoners van Beaconsfield wat ook aan die protes-aksie deelgeneem het. Dié twee susters, Wilhelmina Swiegers (links) en Dorothy Buchler bly in munisipale woonstelle. Volgens hulle help Casa hulle baie by dié geboue waarvan die instandhouding deur die munisipaliteit maar power is. Foto: Helena Barnard
Inwoners, wat hul stem laat hoor het oor onder meer swak dienslewering in die Sol Plaatje-munisipaliteit, voor die premier se kantoor op Maandag 14 Julie. Foto: Helena Barnard

You need to be Logged In to leave a comment.