’n Man (58) is Maandag (17/01) dood en twee vroue (17 en 50) ernstig beseer in ’n gru-ongeluk op die hoek van Memorialweg en Welgevondenstraat in Kimberley.
Kapt. Tessa Jansen, polisiewoordvoerder, sê hulle is omstreeks 13:25 na die toneel ontbied. Die man se bakkie het bo-op die vroue se Datsun-voertuig gelê.
“Die bewering is dat die motoris in die bakkie wat in Memorialweg gery het, beheer verloor en op die Datsun Go geland het wat by die T-aansluiting in Welgevondenstraat gestaan het. Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.”
Luidens ’n verklaring van Emer-G-Med het die beseerde vroue, wat in hul motor vasgekeer is, vir hul lewe geveg voordat hulle uit die motor gehaal en na die hospitaal gebring is. Die man is reeds dood in sy bakkie gevind.
Die bakkie moes eers van die motor verwyder word voordat die vroue met meganiese kake uit die wrak gesny is. Hulle moes met gespesialiseerde toerusting op die toneel behandel word om hul lewe te red voordat hulle na die hospitaal gebring is.
’n Familielid van die beseerdes het Dinsdag in ’n Facebook-plasing gesê dat haar niggie ernstig beseer is en erge pyn het, terwyl die aard van haar suster se beserings onbekend is. ’n Ingeligte het gesê die jonger pasiënt is Dinsdagoggend van die waakeenheid na ’n gewone saal verskuif.