‘n Saak van strafbare manslag word deur die polisie ondersoek ná die botsing tussen ‘n bus van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) en ‘n mynbakkie.

Dié botsing het Donderdag 17 April om ongeveer 18:40 op die R325-pad gebeur, tussen Postmasburg en Kathu.

Volgens sers. Molefi Shemane, polisiewoordvoerder, is die 38-jarige bestuurder van die dubbelkajuitbakkie op die toneel dood verklaar deur die paramedici. Sy passasier, ook ‘n man, is na die hospitaal in Postmasburg geneem. Hy het glo ernstige beserings opgedoen.

Die lede van SANW wat in die bus vervoer is, het nie beserings opgedoen nie. Hulle is egter vir skok behandel.

Enige persoon met inligting oor hierdie botsing word gevra om die speurders in die Siyathemba-gebied te kontak. Die munisipale gebiede van Prieska, Marydale en Niekerkshoop word deur die Siyathemba-munisipaliteit ingesluit.

Bel vir ao. Lebogang Toyane by 082 454 3746 of die polisie in Siyathemba by 087 630 1000.

Die ondersoek duur voort, en alle inligting wat ontvang word, sal as vertroulik hanteer word, sê Shemane.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article