Die Africana-navorsingsbiblioteek in Kimberley het in ’n huldeblyk afskeid geneem van Kokkie Duminy, ’n voormalige biblioteekhoof wat dié instelling in ’n navorsingsentrum van wêreldklas omskep het.

Duminy (née Cornelia de Ronde) is op 15 Februarie vanjaar in George, waar sy ná haar finale aftrede in 2016 gewoon het, oorlede.

In haar huldeblyk skryf Bernice Nagel, waarnemende hoof, dat Duminy vir almal ’n inspirasie en die “Africana-ikon” was. Duminy was die hoofbibliotekaris van 1994 tot 2008, maar het ná haar aftrede op kontrak by die biblioteek gewerk.

Kokkie Duminy

Duminy is in 1943 in Driebergen, Nederland gebore en het in 1957 saam met haar ouers na Suid-Afrika immigreer. Die gesin het aanvanklik in Umtata, Vryburg en George gewoon. Soos haar pa, was sy ’n begaafde musikant.

Duminy het haar man, Waldi, by die Universiteit van Pretoria (UP) ontmoet. In 1965 word sy ’n biblioteekassistent by George se openbare biblioteek, waarna die gesin na Vryburg en in 1973 na Kimberley verhuis. Sy begin op 1 Februarie 1980 by die Kimberley-openbare biblioteek werk en studeer deeltyds aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa).

Nadat sy ’n graad in biblioteekkunde verwerf, word sy ’n senior biblio­tekaresse en het later by die Kimberley Africana-biblioteek as eerste biblio­tekaresse begin werk.

Nadat sy ’n tydperk as rekeningkundige elders gewerk het, het sy by die Kimberley Africana-biblioteek as eerste bibliotekaresse begin werk.

Duminy en Febe van Niekerk, voormalige hoof van die Kimberley-openbare biblioteek, het in 1996 ’n meriete-eerbewys vir die verwerking van George Beet se manuskrip Knights of the Shovel ontvang. Dit handel oor die delwersdae in die ou Kimberley.

Duminy was een van die stigters van die Vriende van die Africana-biblioteek. Die oogmerk was om ’n noue band met die gemeenskap deur lidmaatskap te bou, en Kimberley en die Noord-Kaap se geskiedenis, kuns en kultuur te bewaar. Dit behels onder meer lesings, bewarings-werkswinkels en uitstallings.

Met geldinsamelings­projekte is gepoog om die biblioteek tot wêreldstandaard te verhef en die waardevolle versameling te beskerm. Verskeie publikasies is gepubliseer om geld in te samel, wat die hoofinkomste van die vereniging geword het.

Versterkte kluis betekenisvolle projek

Een van haar betekenisvolle projekte was om die versterkte kluis te laat bou om die waardevolste artikels te beskerm. Die insamelingsprojek het met borg-’n-baksteen begin. Die kluis is in samewerking met die De Beers Chairman’s Fund, die Ernest Oppenheimer Trust en die Sol Plaatje-munisipaliteit op 21 Julie 2004 geopen.

Duminy was ’n stigterslid van die Africana Library Trust met die hoofdoel om die biblioteek se historiese versameling te bewaar omdat die munisipaliteit nie geldelik genoeg bydra vir die onderhoud en bewaring van die onvervangbare versameling nie. Kimberley, danksy sy droë klimaat, is ideaal as papier­bewaringsentrum waar papierbewaar­ders en boekbinders opgelei word.

Duminy het vanuit Nederland ’n groot skenking van materiaal en toerusting gekry om die sentrum te begin.

Digitaliseringsprojek
Sy was ook betrokke by die digitaliserings­projek wat moontlik gemaak is deur die Nasionale Lotery-kommissie. Die Sechuana (Tswana) Bybel van Robert Moffat is gedigitaliseer en op DVD beskikbaar gestel.

Nagel, wat deur Duminy inspireer is om ’n graad te behaal, sê Duminy se oneindige liefde vir die Africana-biblioteek is die rede dat dit een van die beste navorsingbiblioteke in Suidelike Afrika is.

“Sy het ’n besondere kennis van die inhoud van die versameling van die Africana-biblioteek gehad om navorsers te help. Die behoud van die Afrikaanse taal asook ander inheemse tale en kulture van Suid-Afrika, was vir haar van uiterste belang.

“Smiddae het sy met hope werk huis toe gegaan. Haar trollie was gelaai met haar skootrekenaar en hope registers waarvan sy indekse opgestel het. Tot in haar aftrede kon ons haar bel om indekskaarte te ontsyfer of ’n item op te spoor.”

Duminy het ook Michael Alfred, digitaliserings-tegnikus, opgelei.

“Sy was gedrewe en vol lewenslus,” sê hy. “Haar werksetiek was besonders en sy sou seker maak alles tot by die fynste besonderheid is korrek. Ek het uit haar eie lewenslesse geleer en sy het my aangemoedig om verder te studeer.”

Vir Annelize Rowan, konserveerder, was Duminy ook ’n ma.

“Alles wat ek van biblioteekwese weet, het ek by haar geleer. Dit behels alles van boeke wegpak, navorsing en boeke bewaar. Te danke aan haar is ek ’n boekrestoureerder en het ek ’n graad in biblioteekkunde behaal.”

Rowan sê Duminy het die biblioteek ’n wêreldbekende sentrum gemaak.

You need to be Logged In to leave a comment.