Twee Duitse burgers wat in die streekhof in Upington gevonnis is weens vier aanklagte van handel in en die besit van bedreigde reptielspesies, is dadelik weer in hegtenis geneem op aanklagte dat hulle skurwejantjies deur die O.R. Tambo-lughawe uit die land probeer smokkel het.
Daniel Lodhe (33) en Marco Drescher (54) is in November 2019 by Askham, sowat 200 km noord van Upington in die Kalahari, in hegtenis geneem nadat hulle met verskeie reptiele in hul besit betrap is, sê kapt. Tebogo Thebe, Valke-woordvoerder.
Lodhe en Drescher is Donderdag (21/07) ná talle hofverskynings op borgtog vrygelaat en is ná ’n pleitooreenkoms met die staat gevonnis. Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder vir die nasionale vervolgingsgesag, sê volgens die pleitooreenkoms moet Lodhe ’n boete van R350 000 en Drescher ’n boete van R100 000 aan natuurbewaring betaal.
“Die geld sal gebruik word om omgewingsmisdade te bekamp en vir die beskerming van die Noord-Kaapse omgewing.”
Die twee is dadelik ná vonnisoplegging in verband met ’n ander saak in hegtenis geneem. ’n Ondersoek van die Valke het hulle verbind met ’n voorval toe daar glo probeer is om skurwejantjies na die buiteland te smokkel. Hulle is op aanklagte van die oortreding van die Wet op Bedreigde Spesies in hegtenis geneem. Skurwejantjies is uiters bedreig.
– Anena Burger

