Die afgelope dae is die laaste voorbereidings getref en van die eerste wedstryde gespeel in vanjaar se Absa Wildeklawer Skolesporttoernooi in Kimberley wat meer as ‘n week gaan duur.
Altesaam 232 spanne van 126 verskillende skole van oor Suid-Afrika heen neem aan die 15de Absa Wildeklawer Skolesporttoernooi, vanaf Woensdag 23 April tot Saterdag 3 Mei, deel.
Hulle ding mee in die o.13-, junior-, senior- en uitnodigingstoernooi vir rugby, netbal en sokker. Vanjaar word ‘n uitnodigingshokkie-toernooi vir die eerste keer gespeel.
Sowat 5 357 spelers en beamptes, asook ondersteuners, gaan op Kimberley toesak en die stad ‘n ekonomiese inspuiting gee.
Die eerste netbal- en rugbywedstryde in die o.13-toernooi is Donderdag onder meer by die Laerskool Newton gespeel. Woensdag het dieselfde spanne vir die spanfoto’s opgetof en het vleisbraaivure hoog gebrand. Van die sokker- en hokkietoernooie word by die Sol Plaatje-universiteit gespeel. Die Laerskool Staats en Kimberley Boys’ High School se sportterreine word ook gebruik.

Pawiljoen pas voltooi
Die senior rugby- en netbaltoernooi vind by die Hoërskool Diamantveld plaas, waar die skool se nuwe aangeboude pawiljoen pas voltooi en in die skool se kleure geverf is.
Die nuwe skoolhoof, Francois de Kock, het meer kleur aan van die geboue aangebring met die skool se wapen en kentekens.
Hy is baie opgewonde om die spelers en beamptes as gasheer te verwelkom. De Kock was voorheen as ‘n afrigter van ander skoolspanne by die immergewilde toernooi teenwoordig.
Drie van die skool se gr.12-leerlinge, wat in die top tien akademiese groep is, het Donderdag die nuwe pawiljoen bewonder. Al drie dié meisies wil eendag veeartse word.
Anika van der Merwe, die top akademiese leerling wat aan atletiek deelneem en pluimbal vir die Suid-Afrikaanse Skolespan speel, dink die pawiljoen is baie netjies, maar hoop die ouer gedeelte word aanstons geverf om by die nuwe gedeelte aan te pas.
Milan Snyman, vierde in die top tien, sal die naweek deel wees van die Absa Wildeklawer pompon-meisies. Normaalweg is hul span Diamantveld se pompon-meisies.
Danika Meyer, wat tweede in die top tien is, is een van die eerste atlete in die skool se eerste span wat in die uitnodigingshokkie-toernooi speel.
“Ek is baie opgewonde daaroor. Ek is gek oor hokkie as sportsoort. Dit help my om te ontspan, fiks te word en weg te kom van die akademiese druk.”



You must be logged in to post a comment.