Ds. Liezel de Jager se man, Werner de Jager (45), het op Maandag 27 November sy eerste verskyning in die landdroshof in Amanzimtoti gemaak waar hy op aanklag van moord op haar tereg staan.
Sy hofverskyning volg nadat hy op Donderdag 23 November omstreeks 03:30 by ’n huis in Bloemfontein in hegtenis geneem is.
Dit is reeds twee jaar nadat Liezel in die oprit van haar pastorie in Amanzimtoti oorrompel en verwurg is. Sy was vroeër ’n leraar aan die NG kerk Kanoneiland naby Upington.
Werner het die veiligheidsdienste gebel nadat hy “op haar afgekom” het, het hy toe gesê.
Hy het kort ná die moord vermis geraak en is dae later in ’n suikerrietplantasie gekry en gehospitaliseer.
Werner se inhegtenisneming volg nadat die polisie se nasionale ondersoekeenheid vir onopgeloste sake die saak oorgeneem het.
Dit het dié eenheid sowat twee weke geneem om ’n inhegtenisneming uit te voer.
Werner het Maandag in ’n kortbroek, T-hemp en baadjie in die hof verskyn.
Hy het met tye erg verward voorgekom en sy trane was soms vlak.
Sy regspan was nie in die hof nie, maar hy het aangedui dat hy ’n borgtogaansoek gaan indien.
Die staat gaan dit teenstaan.
Die saak is tot 7 Desember uitgestel vir die borgtogaansoek, ook in die landdroshof in Amanzimtoti. Hy bly tot dan in aanhouding in Durban.


