Kimberley: ‘Drie vermorste jare’ verby

’n Forensiese verslag wat Maandag (16/08) in die hooggeregshof in Kimberley met ’n skikking ter syde gestel is, bring “drie vermorste jare” tot ’n einde waarin die geskorste finansiële hoof en munisipale bestuurder van die stad miljoene rande betaal is om tuis te bly.


Vermorste jare

Lydia Mahloko, geskorste finansiële hoof, en Goolam Akharwaray, geskorste stadsbestuurder van Kimberley, is in hul noppies nadat die forensiese verslag teen hulle Maandag (16/08) deur die hof tersyde gestel is. Foto: Charné Kemp

’n Forensiese verslag wat Maandag (16/08) in die hooggeregshof in Kimberley met ’n skikking ter syde gestel is, bring “drie vermorste jare” tot ’n einde waarin die geskorste finansiële hoof en munisipale bestuurder van die stad miljoene rande betaal is om tuis te bly.

Lydia Mahloko, geskorste finansiële hoof, en Goolam Akharwaray, geskorste munisipale bestuurder van die Sol Plaatje-munisipaliteit, is verlig hieroor. Die munisipaliteit moet nou oor die skorsing besin.

“Dit was drie vermorste jare vir ons,” meen albei. Akharwaray sê hul salarisse is steeds betaal, maar hul kundigheid kon nie ter wille van goeie dienslewering ingespan word nie. Hul professionele loopbaan het weens die ongegronde bewerings teen hulle skade gely.

Die munisipaliteit het Mahloko en Akharwaray in Augustus 2018 geskors, waarna die departement van samewerkende regering ’n forensiese ondersoek gedoen het waarin die twee van wanadministrasie beskuldig is. Mahloko en Akharwaray het ’n interdik teen die departement, die munisipaliteit, die speaker, LUR, voorsitter van die taakspan, waarnemende munisipale bestuurder en die voorsitter van die nasionale raad van provinsies bekom wat die munisipaliteit verhoed het om verdere stappe te doen hangende ’n hersiening van die forensiese verslag.

Regters Lawrence Lever en Cecile Williams het Maandag die skikkingsooreenkoms bekragtig waarin Mahloko en Akharwaray hul aansoek terugtrek en die forensiese verslag ter syde gestel word.

Akharwaray sê hul prestasies in die amp spreek vanself. “Teen die tyd van ons skorsing het die ouditverslae al elke jaar beter vertoon; van ’n afwysende verslag na ’n ongekwalifiseerde verslag. 

“Toe ek tien jaar gelede as stadsbestuurder oorgeneem het, het ons begin om die munisipaliteit se geldsake, wat in ’n haglike toestand was, om te draai. Dit het drie of vier jaar geneem om die munisipaliteit van sy knieë tot op sy voete te lig. Ons het professionele mense soos ingenieurs en rekenmeesters aangestel. Die tesourie het my destyds selfs gevra om ’n boek oor goeie bestuur te skryf.

 “Ons het ’n funksionele organisasie geskep wat finansiële reserwes gehad het en geen oortrokke bankrekening nie. Ons het miljarde bestee om die infrastruktuur op te bou. Teen 2018 is ons as een van die top vier munisipaliteite in die land beskou.

“Ná ons skorsing het die ouditverslae verswak en is die munisipaliteit in ’n geldelike verknorsing. Die hele sage moet ’n les vir iemand wees om nie altyd alles te aanvaar wat ander beweer nie.”

Hy sê die skikkingsooreenkoms het gekom nadat hulle “sekere inligting” bekom het wat die respondente se saak verswak het. “Ons het in ons aanvanklike aansoek aangevoer daar was destyds geen wetlike rede om die forensiese ondersoek te doen nie, prosesse is nie gevolg nie, sommige lede van die ondersoekpaneel was bevooroordeeld, die verslag was irrasioneel, sekere getuies het nie onder eed getuig nie en die ondersoek het nie in die openbaar plaasgevind nie.” 

You need to be Logged In to leave a comment.