Die Dru-A FET-kollege in Kimberley is onder druk omdat die onderwys-, opleiding en ontwikkelingspraktyke vir sektor onderwys- en opleidingsowerheid (ETDP Seta) ondanks vele versoeke en weens probleme met rekenaarstelsels, tot dusver nie sertifikate aan van die studente kon uitreik nie.

Foto: Skermgreep/Google

Drie oudstudente van ’n kollege in Kimberley se drome om verder in onderwys te studeer is in skerwe nadat hulle twee-en-’n-half jaar nadat hulle afstudeer het, steeds nie hul sertifikate ontvang het nie.

Intussen sê dié kollege in verdere onderwys en opleiding, die Dru-A FET-kollege, dat hulle onder druk is omdat die onderwys-, opleiding en ontwikkelingspraktyke vir sektor onderwys- en opleidingsowerheid (ETDP Seta) ondanks vele versoeke en weens probleme met rekenaarstelsels nie die sertifikate kon uitreik nie.

Van die moedelose studente het opgegee om die sertifikate te versoek.

Een van hulle se ouers, Pearly Runcie, sê die kursus het hulle R15 000 gekos.

“Ons soek die sertifikaat en kon dit ná twee jaar nog nie kry nie,” sê Runcie.

Haar dogter, Roxanne Runcie, sê sy en vier ander studente het die jaarlangekursus in vroeëkinderontwikkeling op die nasionale kwalifikasieraamwerk (NQF) 4 in 2021 voltooi.

“Sedertdien kan ek nie na die volgende vlak vorder sonder die sertifikaat nie. My droom was om ná die verkryging van die NQF5- sertifikaat, onderwys by ’n universiteit te studeer.

“Dit is ’n baie goeie kollege en die kursus en personeel was baie professioneel en interessant. Ons het ses maande teorie en ses maande prakties gedoen.”

Haar eertydse klasmaat, Geralda Breda, is ook moedeloos.

“Ek is terneergedruk. Daar is soveel verlore geleenthede en ek word nie jonger nie. Die kursus was wonderlik, ek het nooit gedink ons sal met die probleem sit nie.

“Ek gaan nou maar werk in Johannesburg soek.”

Nog ’n student, wat anoniem wil bly, bly nou in Kaapstad. Sy sê onderwys is haar passie.

“Minstens het die kollege vir my ’n afskrif van die sertifikaat gestuur en studeer ek verder vir die NQF5-kwalifikasie terwyl ek as ’n au pair werk, met die hoop om onderwys te studeer. Ek wil graag onderwys aan kinders met spesiale behoeftes gee.”

‘Afhanklik van Seta vir uitreiking’

Dirk Andrews, kollegehoof, sê Dru-A FET het verskeie geldige akkreditasies by ETDP Seta, maar is afhanklik van die Seta om die sertifikate uit te reik.

“Ons hoop om binnekort die sertifikate uit te reik nadat die Seta se rekenaarsisteme uiteindelik operasioneel geword het.

“Ons kan slegs bevoegdheid­sertifikaat uitreik nadat Seta interne prosesse voltooi het. Die kollege is verantwoordelik vir assessering en moderering, maar Seta doen verifikasie en reik die verklaring van resultate uit ingevolge hul verifikasie.

“Verskaffers van opleiding moet in opdrag van Seta die gehalteversekering finaliseer voordat ’n bevoegdheidsertifikaat uitgereik kan word.

“Ons het al heelwat kere met die Seta oor dié unieke situasie korrespondeer.

“Ek het talle briewe wat dui op die vertragings aan Seta se kant wat ons belemmer het om sertifikate uit te reik.

“Ons kommunikeer gereeld met studente, en ons het e-posse wat daarvan getuig.”

Hy sê al die studente is nou geassesseer en intern gemodereer.

“Ons wag net vir die finale verifikasie van die Seta sodat ons die studente van oorspronklike sertifikate kan voorsien.

“Ons wag op terugvoering van die Seta vir die finale datum.

“Al ons ander studente het sertifikate ontvang vir die ander kursusse wat ons aanbied. Sommige studente ontvang ingenieursertifikate ná elke trimester,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article