’n Polisiereservis, ’n sersant en ’n konstabel van die Kakamas-polisiekantoor is nou die helde van ’n gesin van Kakamas nadat die drie vroeër die gesin se 83-jarige bedlêende oupa en drie minderjarige kinders van ’n gewisse branddood gered het.
Sers. Neville Mouton, konst. Melvin de Wee en reservis-konst. Ricardo van Wyk het op 18 Junie die Witrand-woonbuurt in Kakamas patrolleer toe hulle ’n huis sien wat brand, sê kapt. Nelis Prins, polisiewoordvoerder.
Die drie polisielede het dadelik emmers met water bymekaargemaak om die brand te probeer blus.
Van Wyk het deur ’n venster aan die kant van die huis vir Stanford Nyoka (83) op ’n bed sien lê. Hy het hom versoek om by die venster uit te klim, maar Nyoka het gesê hy is bedlêend en kan nie opstaan nie.
Aangesien die huis aan die kant van die voordeur reeds in vlamme was, het Van Wyk nie twee keer gedink nie en die venster gebreek. Hy het deur die venster in die brandende huis geklim en die 83-jarige oupa uit sy bed opgetel en na die venster gedra. Hy het Nyoka vir Mouton en De Wee aangegee.
Prins sê nadat Van Wyk die bejaarde deur die venster getel het, het hy ’n kind in die huis hoor huil. Hy is dadelik weer die huis binne om na die kind te soek.
Hy het toe op Nomonde Barry (4), Franklin Engelbrecht (2) en Franco Horn (11) afgekom waar hulle op hul beddens gelê het.
Van Wyk het die kinders gegryp en terug na die venster gehardloop waar hy hulle aan Mouton en De Wee aangegee het.
“Die brand is later geblus, maar die binnekant van die huis is erg deur die brand beskadig,” sê Prins.
Hy sê die drie lede se dapper optrede het verseker dat die bedlêende oupa en die kinders gered is.
Van Wyk het gesê hy het nie eens aan die gevaar van die brand gedink nie en wou net die oupa en die kinders uit die vlammehel red. Hy is verlig en bly dat hy en sy kollegas se optrede ’n goeie uitkoms gehad het.
Die kinders en Nyoka se familielede kon nie hul dankbaarheid teenoor die drie polisielede genoeg uitspreek nie.
Prins sê die oorsaak van die brand word ondersoek.
Kol. Dries Witbooi, stasiebevelvoerder van die Kakamas-polisiekantoor, het die lede bedank vir hul onbaatsugtige dapperheid en dat hulle hul lewe op die spel geplaas het.


