Die drie boere wat vanjaar eerbewyse ontvang het in Toyota en Agri Noord-Kaap se jongboer van die jaar-kompetisie is van links Dewald Dempers (wenner), Heinrich Mülke (tweede plek) en Dirk Louw (wat die Nuwe Generasie-oorkonde gewen het).

Foto: Charné Kemp

Drie Noord-Kaapse jongboere is verlede week op die jaarlikse kongres van Agri Noord-Kaap vir hul uitnemendheid gehuldig en een van hulle is as die Toyota Agri Noord-Kaap jongboer van die jaar aangewys.

Die wenner was Dewald Dempers wat saam met sy vrou Adelé en hul kinders met pekanneute in die Vaalharts-skema boer. Hy het ook ’n spuitvliegtuig-onderneming.

“Ek dink nie ek is nie beste nie, maar ek omring my met die beste. Ek het eers by my pa vir ’n salaris gewerk, maar later finansiering bekom om my eie grond te koop. My pa se ondersteuning het my geweldig gehelp.”

Hy glo in volhoubare uitbreiding en die gebruik van die jongste boerderytegnieke en tegnologie.

“My langtermynvisie is om produksie te verhoog en meer winsgewend te wees. Die koste per hektaar moet verlaag sodat ’n mens beter kan beding wanneer jy aankope maak.”

Hy het onlangs sowat 200 ha aan ’n groep vir swart ekonomiese bemagtiging verkoop.

“Ek mentor die boere en het aanvanklik my eie trekker gebruik om die pekanneutbome te plant. Hulle het nou hul eie toerusting, maar ek en my span kundiges besoek hulle gereeld om tegniese en boerderykennis oor te dra.

“Ek is positief oor landbou in Suid-Afrika. Ek boer lekker en hanteer die uitdagings. Harde werk en sukses loop saam.”

Heinrich Mülke is in die tweede plek. Hy en sy vrou, Antoinette, boer in die Douglas-distrik met mielies, koring en aartappels in vennootskap met sy pa.

“Ons vul mekaar goed aan. Ek wil met meer gewasse op groter stukke grond boer sodat ek nie stagneer nie.” Hy het ook met aartappels begin boer, maar wil eers by ander boere kers opsteek.

Hy verkoop saadaartappels aan ’n landboumaatskappy en aartappels op varsproduktemarkte. Die land se politieke onsekerheid maak hom nie negatief nie.

“My pa en oupa het gesê jy moet iets anders gaan doen as jy negatief oor boerdery is. Ek is altyd op soek na nuwe geleenthede, en daar is geen rede dat ons nie elke jaar oeste kan vergroot of rekordoeste kan behaal nie. Ons sal net waterbronne goed moet bestuur.”

Dirk en Reny Louw wat die Nuwe Generasie-oorkonde ontvang het, boer met rosyne en pekanneute buite Groblershoop. Hy is reeds 21 jaar in landbou betrokke, en 14 jaar met sy eie boerdery.

“Jy moet die wilskrag hê om te boer en geleenthede benut. My vorige werkgewer was my mentor wat my stewig in die druiwe-bedryf geanker het. Een van die grootste lesse was om jou personeel te koester en te waardeer. Ek is betrokke by en betrek die gemeenskap om hul ondersteuning te wen.

“Ek moes die afgelope jaar verskeie probleme trotseer. Daar was ’n brand op ses hektaar van die plaas, en ons het vier haelbuie en oorvloedige reën gehad. Ek kon darem betyds rypskade voorkom.”

Hy moet gereeld probleme kreatief oplos.

“Ek het ’n ou stroper uitmekaargehaal en dit in ’n masjien omskep om die reste van die rosyne te skei om ’n beter gehalte produk te lewer. Ek boer en bly gelukkig tussen my mense.”

You need to be Logged In to leave a comment.