Drie moorde skok

Die lyk van Elzabie Brand (54) is Dinsdagoggend (28/07) vroeg gevind nadat sy en haar bejaarde ouers, Danie (83) en Breggie Brand (73), vermoedelik Sondagmiddag op hul kleinhoewe by Hartswater aangeval en ontvoer is.


Die lyk van Elzabie Brand (54) is Dinsdagoggend (28/07) vroeg gevind nadat sy en haar bejaarde ouers, Danie (83) en Breggie Brand (73), vermoedelik Sondagmiddag op hul kleinhoewe by Hartswater aangeval en ontvoer is. 

’n Massiewe soektog is Maandagmiddag laat begin nadat vriende ondersoek ingestel het omdat die gesin nie telefonies bereik kon word nie. Hulle het dadelik onraad vermoed toe hulle die huis in chaos aangetref en bloed in die huis gesien het. Die gesin se motors was ook weg.

Danie se motor, ’n Nissan Micra, is kort nadat die soektog begin is, in ’n woonbuurt naby Taung opgespoor. Elzabie se silwergrys Mazda CX5 is Maandag omstreeks 23:00 net duskant Pudimoe op die N18 voorgekeer. 

Drie verdagtes is reeds Maandagaand in hegtenis geneem: ’n 42-jarige vrou en twee mans van onderskeidelik 18 en 19 jaar oud. ’n Vierde verdagte, ’n 20-jarige man, is Dinsdagoggend aangekeer. Die verdagtes wat Maandagaand in hegtenis geneem is, het aan die polisie uitgewys waar Elzabie se lyk in die omgewing van Buxton naby Taung teen die Ghaapse-berg gevind kon word. Elzabie het glo die naweek uit Johannesburg by haar ouers gekuier. 

Die verdagtes het ook aangedui waar Danie en Breggie se lyke glo in dieselfde gebied agter ’n bos met takke toegepak is. Die gebied is uiters ruig en moeilik in die donker begaanbaar.

Hommeltuie is Dinsdagoggend vroeg gebruik om die soektog te steun en plaaslike spanne het met sonsopkoms help soek. Teen druktyd was dit nog nie bekend of die twee lyke al gevind is nie.

In ’n verklaring sê die VF Plus dat ’n plaasaanval onlangs in die nabygeleë Reivilo uitgevoer is, terwyl nog ’n aanval in dié omgewing verlede week gefnuik is.

  • Die lyke van die twee bejaardes is laat Dinsdagmiddag (28/07) gekry. ‘n Vyfde verdagte is ook in hegtenis geneem.

You need to be Logged In to leave a comment.