Drie laerskoolmeisies van Rosedale in Upington wat ‘n dag gelede as vermis aangemeld is, is omstreeks 17:30 vandag – Vrydag 25 Julie – ongedeërd gevind.

Dié drie, wat aan dieselfde laerskool in Upington skoolgaan, is Donderdag 24 Julie as vermis aangemeld.

Twee van die meisies, die 13-jarige Melonice Pienaar en die tienjarige Lorryn Pienaar, het blykbaar Dinsdag en Woensdag by die Laerskool Simbruner in Frans van Rooi-straat in Morning Glory in Upington opgedaag. Volgens die skool se rekordhouding was hulle egter nie Donderdag teenwoordig nie.

Die derde meisie, die sesjarige Heino-Line Beukes, het blykbaar nog glad nie dié kwartaal by die skool opgedaag nie, maar volgens die ouers was sy soggens op pad skool toe.

Al drie het glo op Donderdag hul huise verlaat om skool toe te gaan, maar het nie by die skool opgedaag nie. Hulle was in skooldrag van die Laerskool Simbruner geklee.

Hul ouers het hulle om ongeveer 09:00 op 24 Julie as vermis by die polisiekantoor in Rosedale in Upington aangemeld.

In video-plasings op sy Facebook-blad sê Igshaan Sulliman, ‘n aktiewe en betrokke gemeenskapslid, hulle het tydens die soektog ‘n wenk ontvang dat hulle in Dakota-weg by ‘n spesifieke ligging moet gaan soek. Die drie meisies is daar gevind. Hy sê die plek waar hulle gevind is en oornag het, is duidelik nie veilig nie en moes baie koud gewees het. Groot dankbaarheid bestaan dat die meisies gou genoeg gevind is voordat hulle leed aangedoen is.

‘n Skermgreep van die plek waar die drie vermiste skoolmeisies gevind is. Foto: Facebook/Igshaan Sulliman

Sulliman sê die polisie het vinnig opgetree met genoeg personeel ná die kinders as vermis aangemeld is. Hy bedank ook spesifiek vir Rhino Security Upington vir hul betrokkenheid, asook die skoolhoof van die laerskool wat soveel omgee gewys het.

“Wanneer ons kinders weg is, soek ons almal,” sê hy, en dan is politiek en ander verskille nie van toepassing nie.

Die distrikskommissaris van die ZF Mcgawu-distrik, genl.maj. Monica Sebili, het haar dank teenoor alle gemeenskapstrukture en polisielede uitgespreek wat in die soektog na die drie meisies betrokke was.

Sers. Omphile Masegela, woordvoerder van die polisie in die ZF Mcgawu-distrik, herinner die publiek weer daaraan dat geen wagtydperk bestaan om iemand as vermis aan te meld nie. ‘n Persoon wat vermis word, moet so gou moontlik by die polisie aangemeld word.

You need to be Logged In to leave a comment.