’n Atletiekklub van Kimberley oorweeg dit om weer wagte in
te span om drawwers soggens te fiets te begelei en op te pas nadat nóg ’n
vroueatleet vroeër vandeesweek glo in die vroeë oggendure in een van Kimberley
se spogstrate aangeval en beroof is.
Volgens Ockie Vermeulen, voorsitter van die Vodacom
Kimberley Road Runners-klub, het die voorval Dinsdagoggend (23/07) vroeg in
Carringtonweg gebeur.
Hy sê die vrou het gedraf toe sy deur ’n verdagte, wat met
’n mes gewapen was, voorgekeer is.
Ondanks die feit dat sy met ’n skokstok gewapen was, is sy
glo van haar besittings beroof.
Sy het geval in ’n poging om te ontsnap, en moes later
steke aan haar kop kry. Sy is gelukkig nie met die mes gesteek nie.
Noordkaap verneem die vrou is erg getraumatiseer ná die
voorval en wil anoniem bly.
Sy sê die voorval het omstreeks 05:20 naby die
Oleander-gastehuis gebeur.
“ ’n Man
het voor my geloop en ek het onrustig gevoel. Ek wou omdraai, maar toe versnel
ek net.
“Toe ek naby hom kom, het hy sy hoody oor sy kop getrek. Ek
het dadelik geweet daar is moeilikheid.
“Ek het vinniger gegaan, maar toe ek omkyk, sien ek net hoe
hy my met ’n lang mes bestorm.
“Ek het vreeslik geskreeu en myself met my skokstok probeer
verdedig, maar in die proses het ek op die grond beland,” sê sy.
“Hy het bo-oor my gestaan en op my selfoon aangedring, maar
ek hardloop nie met ’n foon nie. Ek het gesê hy moet my horlosie vat. Dit is
waardevol.”
Volgens die vrou was die rower nie met haar
hardloop-horlosie tevrede nie.
“Hy het gesê hy soek my handskoene ook. Ek het gesê ek sal
opstaan sodat hy my self vir ’n foon kan deursoek.
“Toe hy besef ek het niks meer aan my nie, het hy geskree
ek moet gaan.
“Ek het toe huis toe gegaan en later besef my kop is vol
bloed.”
Vermeulen onderhandel met ’n veiligheidsmaatskappy om
atlete soggens met fietse te begelei.
Die idee is dat atlete soggens in groepe saam van ’n
bymekaarkompunt beweeg, en dat hulle dan deur wagte op fietse vergesel word om
hulle te beskerm.
Atlete sal dan weekliks of maandeliks vir die beveiliging
geldelik moet bydra.
Die klub het in 2017 ook ingetree en ’n
sekuriteitsmaatskappy betrek om atlete te beskerm nadat twee atlete wat vir die
Twee Oseane-marathon geoefen het, deur drie mans in Carringtonweg oorval en met
’n panga gedreig is.
Lt. kol.
Dimakatso Mooi, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig.
Volgens haar ondersoek die polisie ’n saak van roof nadat ’n
42-jarige vrou in die straat aangeval is.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Mense met inligting wat tot die inhegtenisname van die
verdagte kan lei kan die polisie by 08600
10111 skakel. Inligting word vertroulik hanteer.