’n Onderwyseres van Boshof het op die nasionale onderwysprysuitdeling met die louere as die beste wiskundeonderwyser in die land weggestap.
Johané Marais (33) is vroeër op die nasionale onderwystoekenningsgeleentheid as die beste onderwyser in wiskunde vir gr. 7 tot gr. 9 aangewys.
Sy het die eerbewys op 5 Oktober ontvang.
Marais, ’n onderwyseres aan die Boshof Combined School, sê wiskunde is van kleins af haar passie.
Sy vertel hoe sy as skoolkind haar pa, Johan van Niekerk, oudskoolhoof van die Laerskool Eben Dönges in Bothaville, help merk het aan maklike vrae.
“Ek is ’n absolute perfeksionis en leef vir probleemoplossing en syfers. Ek gedy met formules, somme en metodes.”
Sy het ook ’n liefde vir musiek en die kunste, en het aanvanklik drama studeer.
Die vermaaklikheidsbedryf is nie haar passie nie. Die drama-agtergrond kom haar egter goed te pas in die klaskamer om leerlinge te help om hul vrees vir wiskunde te oorkom.
“Ek leer kinders deur my eie liedjies te skryf en ook deur speletjies te ontwerp sodat hulle moeilike konsepte beter kan verstaan.
“Ek maak ook gebruik van tegnologie in my klas om elke leerling te stimuleer op ’n manier wat hy of sy sal verstaan.”
Marais sê onderwys vloei nie net in haar bloed nie, maar ook in dié van haar skoonfamilie.
Haar pa het in 2007 ’n derde plek op die prysuitdeling ontvang, terwyl haar skoonma in 2019 ’n eerste plek behaal het, ook vir wiskunde.
Haar man, Alex, wat wiskundige geletterdheid aan die Boshof Combined School gee, het in 2021 die prys vir die beste onderwyser in wiskundige geletterdheid vir gr. 10 tot gr. 12 gewen.
Haar ma, Petro van Niekerk, was ook in die onderwys en was ’n gr. 2-onderwyseres aan Eben Dönges.


