Dr. Dion Theys aangekla oor onregmatige kontrakte van R96 miljoen

Dr. Dion Theys (54), waarnemende departementshoof van die Noord-Kaapse departement van gesondheid, is Woensdagoggend (10/03) ure ná sy inhegtenisneming op borgtog vrygelaat. Theys word daarvan verdink dat hy as verantwoordelike amptenaar nie die wetlike voorskrifte ingevolge die Wet op Openbare Finansiële Bestuur gevolg het nie toe huurkontrakte van R96 miljoen aangegaan is.


Dr. Dion Theys (54), waarnemende departementshoof

Dr. Dion Theys (54), waarnemende departementshoof van die Noord-Kaapse departement van gesondheid tydens sy hofverskyning op Woensdag (10/03). Foto: Verskaf

Dr. Dion Theys
(54), waarnemende departementshoof van die Noord-Kaapse departement van
gesondheid, is Woensdagoggend (10/03) ure ná sy inhegtenisneming op borgtog vrygelaat.

Theys word
daarvan verdink dat hy as verantwoordelike amptenaar nie die wetlike
voorskrifte ingevolge die Wet op Openbare Finansiële Bestuur gevolg het nie toe huurkontrakte
van R96 miljoen aangegaan is.

Hy is op borgtog
van R30 000 vrygelaat en moet sy paspoort by die ondersoekbeampte indien.
Indien hy vir werk oorsee moet reis, moet hy die ondersoekbeampte nader.

Theys, wat
gereeld saam met dr. Zamani Saul, premier, by nuuskonferensies oor die
Covid-19-pandemie verskyn, het tydens sy verskyning deurentyd handreiniger op
sy hande gespuit. Hy het kameras ook vermy.

Die Valke het hom net na 07:00 by sy huis in hegtenis geneem. Hy het spoedig daarna in die
landdroshof in Kimberley verskyn. Die saak teen hom mag moontlik een van die
eerstes wees wat in die nuwe handelsmisdaadhof, wat volgende Maandag oopmaak,
aangehoor word.

Nomthandazo
Mnisi, Valke-woordvoerder, sê die waarnemende departementshoof het in 2014 drie
huurkontrakte met die JP Hugo-koshuis aangegaan om verpleërs te huisves. Die korrekte verkrygingsprosedures is na bewering omseil. 

Landdros Danie
Schneider het die saak na die streekhof tot 24 Maart uitgestel. Die streekhof
mag die saak na die nuwe handelsmisdaadhof oorplaas.  

Adv. Frans
Peterson, Theys se regsverteenwoordiger, het beswaar gemaak dat hulle nog nie
die klagstaat of dossier onder oë gehad het nie. Volgens hom is hulle “in die
donker” oor die aantygings teen Theys.

Adv. Ash Singh
het aangekla.

Genl.maj. Kholekile Galawe, die Valke-bevelvoerder in die Noord-Kaap, het sy lede geprys wat ‘n ingewikkelde ondersoek gedoen het. Hy glo dat geregtigheid in die stryd teen korrupsie in staatsdepartemente sal seëvier. 

You need to be Logged In to leave a comment.