Sy is trots op haar kind, en deur hom het sy geleer om die klein dingetjies in die lewe te waardeer, vertel Suné Wiese van Upington.
Graham, haar en haar man, Jaco, se seuntjie wat in Desember drie jaar oud word, is ’n Downsindroomlyer. Wiese sê sy het nooit geweet sy sou soveel deur Graham se teenwoordigheid in hul lewe leer nie.
In Oktober, wat Downsindroom-bewustheidsmaand is, wil Wiese die bewuswording oor dié kinders verskerp en wil sy sê “dit is oukei as jy ’n kind met ’n gestremdheid het”.
Sedert Graham gebore is, het sy besef dat daar soveel mense is wat hul kinders met gestremdhede uit die openbare oog hou; dat ander kinders wreed kan wees met ’n spottery; dat daar min mense is wat vir dié met gestremdhede in die bres tree; en dat geweldige onkundigheid oor Downsindroom bestaan.
“Dit terwyl ons hul bestaan eintlik moet vier,” sê sy.
In die platteland, het sy ook gou agtergekom, is onvoldoende ondersteuningsgroepe en toegang tot bronne of hulpmiddels wat mense met gestremdhede nodig het.
Graham, soos baie Downsindroomlyers, het ’n aangebore hartkwaal, en omdat ’n hartsonarmasjien nie in Upington beskikbaar is nie, kan prosedures soos byvoorbeeld die verwydering van mangels nie plaaslik gedoen word nie omdat sy hart nie gemoniteer kan word nie. ’n Pediatriese kardioloog van Bloemfontein besoek Upington wel een maal elke ses maande. Vroeg in volgende jaar moet Graham ’n opehart-operasie in Kaapstad ondergaan, en Wiese sê dit sou vir hulle, en soveel ander ouers in die wye Upington-omgewing, makliker gewees het as meer prosedures plaaslik gedoen kon word; asook as daar meer leiding en raad oor die spesifieke behoeftes van ’n Downsindroomkind was.
Só het sy geleer dat Downsindroomlyers se ontwikkeling stadiger plaasvind en was dit vir haar en haar man, en die twee ander kinders in die huishouding, Jaco jr. en Juha, ’n groot vreugde toe Graham op ongeveer eenjarige ouderdom alleen kon regop sit. Wiese het ook gemerk dat Graham baie goed op musiekstimulasie reageer en neem hom gereeld na Slim Met Musiek-klasse. Sy sou graag wou sien dat sulke en soortgelyke klasse vir Graham, en vir ander soos hy, meer geredelik in die platteland beskikbaar is.
Ander algemene feite oor Downsindroom:
- Downsindroom is nie oorerflik, of weens iets wat die ma gedoen of nie gedoen het tydens swangerskap nie.
- Downsindroomlyers is met ’n ekstra chromosoom gebore, wat die toestand veroorsaak.
- Elke Downsindroomlyer verskil van ander en elkeen het ander vaardighede.
- Drie soorte Downsindroom bestaan.
- Die moontlikheid dat ’n vrou wat 35 jaar of ouer is ’n baba met Downsindroom het, is groter as by ’n jonger vrou. Die meeste Downsindroom-babas se ma’s is egter 35 jaar of jonger omdat meer swangerskappe in die jonger ouderdomsgroep voorkom.
- Algemene gesondheidsprobleme wat Downsindroomlyers kan ondervind, is onder meer swak gehoor, swak sig, slaapapnee, oor-infeksie en hartkwale.
Bevorder reg om aanvaarding en insluiting in gemeenskap
Wiese ondersteun graag die niewinsgewende organisasie Down Syndrome International omdat sy missie haar na aan die hart lê.
Dié missie behels onder meer om die lewensgehalte van mense met Downsindroom te verbeter en om hul reg om aanvaarding en insluiting as gewaardeerde en gelyke lede van die gemeenskap te bevorder. Baie Downsindroomlyers kan ’n selfstandige bestaan in een van verskeie beroepe voer.
Sheri Brynard is een van die land se bekendste Downsindroomlyers. Sy het ’n tersiêre onderwysdiploma verwerf en is ’n heeltydse assistent-onderwyser. Sy is ook ’n motiveringspreker wat al nasionaal en internasionaal opgetree het.
Op ’n blog van Down Syndrome International is talle voorbeelde van Downsindroomlyers wat ’n suksesvolle loopbaan volg, onder andere Fionn van Ierland wat as entrepreneur sy eie media-, kuns- en opvoedingsmaatskappy bedryf; Maja van Pole wat reeds 15 jaar lank ’n danser vir ’n teatergroep is; Muthoni van Kenia, ’n webinaar-konsultant; Eleanor van Ierland, ’n swemafrigter; Ana Luisa van Brasilië, ’n gekwalifiseerde haarkapper en grimeerkunstenaar, en Ahmed van Saudi-Arabië, ’n barista in ’n koffiewinkel.
As ’n poging om Downsindroombewuswording in Upington en omgewing te verhoog, bied Wiese in samewerking met die Upington Crusaders-sportklub op 16 Oktober ’n wedloop en bewustheidsgeleentheid by Desert Palace Resort by Upington aan.
Op dié geleentheid, wat om 08:00 begin, kan deelnemers 10 km, 5 km, 2,5 km of 100 m stap of draf. Gelukstrekkings, ander pryse, medaljes en roomys vir alle atlete is deel van die pret.
Inskrywings kan op upingtoncrusaders.co.za gedoen word en laat inskrywings word op die dag aanvaar.