Sewe van die 13 raadslede van die Siyancuma-munisipaliteit in Douglas probeer glo sedert Maart om van die speaker en burgemeester deur ’n mosie van wantroue by ’n spesiale raadsvergadering ontslae te raak.

Foto: Skermgreep

Die gort is gaar in Douglas waar sewe van die 13 raadslede van die Siyancuma-munisipaliteit glo sedert Maart probeer om van die speaker en burgemeester deur ’n mosie van wantroue by ’n spesiale raadsvergadering ontslae te raak.

Terwyl hulle volhou dat hul vergadering op 4 Junie wettig was waarin hulle ’n nuwe burgemeester en speaker verkies het, sê Xolilo Geco, waarnemende dorpsbestuurder, dit was onreëlmatig en dat Johannes George en Patrick McKlein onderskeidelik steeds die speaker en burgemeester is.

Die sewe ontevrede raadslede beweer ná hul vorige onsuksesvolle versoeke is daaropvolgende petisies aan die LUR vir samewerkende regering, speaker en dorpsbestuurder vir ’n spesiale raadsvergadering op 4 Junie gestuur. Hierop is George en McKlein uit die kussings gelig.

Die sewe ontevredenes is Christopher Nyangintaka, Wim van der Bergen, Lemfia van Niekerk, Velaphi Makabe, Lisa Louw, Sanet Buitendag en Donovan Smous. Van Bergen en Van Niekerk is onderskeidelik as die nuwe burgemeester en speaker op hul vergadering aangewys. Nyangintaka en Makabe het die eerste mosie van wantroue in Maart ingedien wat op ’n spesiale raadsvergaderings in April moes dien.

Ontduik glo mosie van wantroue

Hulle beskuldig George dat hy alles probeer om die mosie van wantroue teen hom en McKlein te ontduik. Hy het na bewering selfs sy e-pos adres verander en niemand daarvan in kennis gestel nie, glo om die raadslede se korrespondensie aan hom te systap. Hy het glo ontken dat hy korrespondensie van hulle ontvang het.

George het volgens die ontevredenes ook gepoog om raadsvergaderings sonder die vereiste 48 uur kennisgewing te belê of op datums wat die raadslede nie pas nie, of toestemming vir hulle geweier vir verlof om afwesig te wees weens omstandighede.

In die ontevredenes se petisie van 9 Mei aan die speaker, dorpsbestuurder en Bentley Vass, LUR vir samewerkende regering, word kennis gegee dat ’n spesiale raadsvergadering op 20 Mei gehou word. Dit het nie plaasgevind nie.

George het na bewering in reaksie hierop in ’n brief aan die dorpsbestuurder en die LUR die egtheid van die sewe raadslede se handtekeninge op die mosie en petisie betwyfel en die munisipaliteit in reses geplaas waarin geen raadsvergaderings kan plaasvind nie. Die rede was dat raadslede nie raadsvergaderings kan bywoon nie vanweë die provinsiale en nasionale verkiesing.

“Ongerymdhede in handtekeninge’
George sê hy vermoed ongerymdhede in die mosie van wantroue en petisie omdat die raadslede se handtekeninge moontlik vervals is. Dit is glo “onduidelik, gekopieer en geplak”, of “verskil” van hul vorige handtekeninge. Hy verlang ’n ondersoek na die egtheid van die handtekeninge, wie agter die petisie skuil, wil handtekeningdeskundiges inroep en die amptenaar wat die petisie in ontvangs geneem word, moet onder eed getuig oor wie dit ingedien het.

Van Bergen is onthuts. “Ons het almal erken ons het die petisie onderteken, hoekom sal ons ons eie handtekeninge vervals? En hoe bepaal hy wat die speaker is, dat die handtekeninge vervals is? Watter grond het hy? Is hy ’n deskundige op handskrifte of handtekeninge?”

Die raadslede beskuldig George dat hy wette oortree en sy magte oorskry om die munisipaliteit in reses te plaas sonder ’n mosie of ’n raadsbesluit.

Geco ontken die bewerings. “Die beweerde truuks om ’n spesiale raadsvergadering te vermy, dra nie water nie. Die speaker se kantoor het die nodige kennisgewings vir ’n spesiale raadsvergadering op 2 April betyds uitgestuur en openbare kennisgewing is gegee. Die mosie van wantroue was op die sakelys ingesluit. Uiteindelik is vier spesiale raadsvergaderings aangevra, maar is die mosie van wantroue later op versoek van die sewe raadslede van die sakelys verwyder.”

Die Siyancuma-munisipaliteit in Douglas.

Die speaker het vir raadslede gesê die munisipaliteit gaan in reses tot ná die provinsiale en nasionale verkiesings sodat raadslede veldtogte kan voer. Die raad sal die reses goedkeur.

“Rakende die bewering oor verdagte dokumentasie en handtekeninge, het een van die sewe raadslede gesê hy het nie so ’n dokument geteken nie. Ons doen ’n amptelike ondersoek waarby handskrifdeskundiges betrokke is. Die ondersoek behels ook beweerde wangedrag en oortredings van die gedragskode. Dit is nog vertroulik. Ons sal met raadslede vergader wanneer die ondersoek afgehandel is.”

Geco sê die speaker het sy e-posadres verander nadat hy die sagteware op sy tablet opdateer het, en dat dit aan alle raadslede en die munisipale administrasie gekommunikeer is.

Die provinsiale departement van samewerkende regering is genader vir kommentaar, wat bygewerk sal word sodra dit ontvang word.

Die samevloeiing van die Vaal- en Oranjerivier by Douglas.

You need to be Logged In to leave a comment.