Die flinke optrede van die Douglas Neighbourhood Watch verlede week het gesorg dat ’n inwoner se gesteelde vuurwapen in minder as ’n uur ná die voorval by Christopher Baartman, die verdagte, gevind is.
Lt. kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê die aangeklaagde is by sy huis in Breipaal in hegtenis geneem. Hy het reeds in die hof verskyn en is aangekla van diefstal uit ’n voertuig en die onwettige besit van ’n vuurwapen.
Twee oud-polisiereserviste het dié buurtwag in 2018 gestig. Stephen Power is die direkteur en sy vrou, Regina, die adjunkdirekteur. Die buurtwag doen patrollies in die woonbuurte, middedorp en op die hoofpaaie.
Hulle het vroeër vanjaar ook hul sekuriteitsmaatskappy, Douglas Protective Services, gestig wat die buurtwag help onderhou. Hul voertuig is ’n paar jaar gelede gekoop met die geldelike hulp van inwoners en sakelui.
Power vertel hy het verlede Donderdagoggend 23 November ’n oproep van die klaer ontvang.
“Die man het gesê hy het opgemerk dat sy bakkie se deur oopstaan. By nadere ondersoek het hy gesien die vuurwapenkluis in die voertuig is oopgedwing. Die pistool, magasyn en rondtes was vermis.
“Ons ken die buurte en inwoners goed, asook watter mense watter soort misdade pleeg. Ons het rondgery en na Baartman, wat in sy dertigs is, gesoek. Hy is bekend vir sy modus operandi. Ons het hom binne ’n halfuur opgespoor en die vuurwapen gevind. Aanvanklik het hy ontken dat hy enigiets van die voorval weet.
“Ons het egter met ons ondervraging volhard. Hy het ons daarna na sy huis vergesel waar hy die vuurwapen in ’n gat in die rusbank waarop hy slaap, uitgewys het. Al die vermiste items is gevind en die polisie is ontbied.”
Power sê misdaad het sedert hul patrolliewerk gedaal.
“Ons hoor dit van heelwat mense en besighede in die dorp. Dit is hoekom hulle ons ook ondersteun. Ons werk saam met ander buurtwagte, die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en die polisie.”
- Baartman verskyn weer op 4 Desember vir ’n borgtogaansoek. Die polisie ondersoek ook ’n saak van nalatigheid teen die eienaar van die vuurwapen.
- Enigeen met inligting oor die saak kan ao. Sebastian Mofokeng by 082-301-9978 bel.


