“Die mees biodiverse dorre gebied ter wêreld” in die Noord-Kaap is pas tot ’n natuurreservaat verklaar.
Die reservaat van meer as 5 700 ha staan bekend as die groter Karrasberge-beskermde gebied en huisves die Sukkulente Karoo-bioom.
Kerry Purnell, Noord-Kaapse bestuurder van grondprojekte by die Wildernis Stigting Afrika, het gesê dié natuurreservaat bestaan uit vier afsonderlike reservate wat nou ’n eenheid vorm om veral besondere plantegroei, waaronder endemiese vetplante, te beskerm.
Die vestiging van die nuwe natuurreservaat was ’n gesamentlike projek tussen die Wildernis Stigting Afrika, die Wêreldnatuurfonds Suid-Afrika (WWF-SA), die Noord-Kaapse departement van omgewingsake en natuurbewaring en grondeienaars.
Andrea Weiss, woordvoerder van die WWF, sê wanneer ’n mens deur die Boesmanland na die ooste van Springbok reis, sien jy ’n groep alleenstaande berge en koppies wat bo die omliggende grasvelde uittoring.
“Daar word soms na dié berge as Inselberge of eilandberge verwys. Bo-op hierdie berge kom ’n verskeidenheid en besondere vetplante voor wat tans deur mynbou en onwettige handel in plante bedreig word.”
Weiss het gesê die eilandberge in die droë, westelike dele van Suid-Afrika is onlangs deur Unesco (die Verenigde Nasies se organisasie vir onderwys, wetenskap en kultuur) beskryf as die “mees biodiverse dorre gebied ter wêreld”.
Die eilandberge van die Noord-Kaap was tot Maart vanjaar geheel en al onbeskermd.
“Met die verklaring van die vier nuwe reservate is dit gelukkig nou nie meer die geval nie,” sê Weiss.
Die vier reservate, Areb, Karas, Marietjie van Niekerk en Smorgenskadu, verteenwoordig die Boesmanland-Inselstruikveld, die Aggeneys-gruisvygieveld, asook die Boesmanland– dorre grasveld.
Die WWF en die Wildernis Stigting Afrika het in ’n gesamentlike verklaring gesê die vestiging van hierdie natuurreservate dra nou by tot die onderskeie plantegroeisoorte se nasionale en internasionale bewaringsteikens.
Luidens die verklaring het die Leslie Hill Sukkulente Karoo-trust (LHSKT) met behulp van WWF-SA die projek gefinansier.– Elise Tempelhoff